22 nie een van hierdie mense sal ooit in hierdie land ingaan nie. Al het hulle my groot krag en al die wondertekens gesien wat Ek in Egipte en ook in die woestyn gedoen het, het hulle My steeds bly uittart. Hulle het hulle geheel en al nie aan My gesteur nie.
23 Daarom sal hulle nooit die land sien wat Ek met ’n plegtige belofte aan hulle voorouers beloof het nie. Nie een van hierdie spul wat my groot Naam onder hulle voete vertrap het, sal hulle voete in die land sit nie.
24-25 Maar my dienaar Kaleb is nie soos hulle nie. Hy het deur dik en dun aan my kant bly staan, daarom sal hy in die land wat hy help verken het, ingaan. Sy kinders sal in die land gaan bly, al bly die Amalekiete en die Kanaäniete nou nog in die valleie. Môre moet julle omdraai en die woestyn intrek in die rigting van die Rietsee.”
26 Die Here vra toe vir Moses en Aäron:
27 “Hoe lank gaan hierdie slegte spul mense nog aanhou om die rug vir My te draai? Ek het net mooi genoeg gehad van hulle gekerm!
28 Gaan sê vir hulle: So seker as wat Ek leef, sê die Here, Ek gaan alles met julle doen wat Ek julle hoor sê het.
29 Almal van julle wat ouer is as twintig en wie se name in die sensus opgeskryf is, dié wat teen My in opstand gekom het, se geraamtes sal in hierdie woestyn agterbly.