40 Vroeg die volgende oggend het hulle kamp opgebreek en na die berge noord van hulle begin trek met die idee om die land van daar af in te neem. Hulle het besluit om op te trek na die land toe wat die Here beloof het.
41 Moses het hulle probeer keer en vir hulle gevra: “Waarom wil julle al weer nie na die Here luister nie? Julle gaan nie regkry wat julle beplan nie.
42 Moenie die land probeer inneem nie, want die Here keur nie julle planne goed nie. Daarom is Hy nie by julle nie. Julle vyande gaan julle platloop.
43 Die Amalekiete en Kanaäniete wag vir julle. Hulle gaan julle doodmaak. Die Here is nie saam met julle in die geveg nie, julle het dan die rug vir Hom gedraai.”
44 Maar die volk het hierdie waarskuwing geïgnoreer. Moses en die ark van die Here het toe nie saam met hulle gegaan toe hulle na die noordelike dele van die bergagtige gebied toe opgeruk het nie.
45 Die Amalekiete en Kanaäniete wat in daardie gebied gebly het, het hulle aangeval en hulle ’n verpletterende neerlaag toegedien. Hulle het die Israeliete tot by Gorma teruggedryf.