6 Maar Nun se seun Josua en Jefunne se seun Kaleb, twee van die leiers wat saam was Kanaän toe, het van hartseer hulle klere stukkend geskeur
7 en vir die hele vergadering wat daar bymekaar was, gesê: “Dit is ’n ongelooflike mooi land waarna ons gaan kyk het.
8 As die Here tevrede met ons is, sal Hy ons help om hierdie land in te neem en daar te gaan bly. Soos ons vroeër vir julle gesê het: dit is ’n land waar dit lyk of die melk en heuning oral in strome loop.
9 Moet asseblief nie die Here se gesag nou uitdaag nie. Moet ook nie vir die land en sy inwoners bang wees nie, ons kan hulle maklik oorrompel. Hulle afgode waarop hulle staatmaak, sal hulle nie kan help nie, want die Here is aan ons kant. Moenie vir daardie spul bang wees nie!”
10 Die hele vergadering was egter min beïndruk met wat Josua en Kaleb gesê het en wou hulle sommer daar op die plek met klippe doodgooi. Maar skielik het die verblindende glans van die Here se teenwoordigheid oor die tent sigbaar geword. Almal kon dit sien.
11 Die Here vra toe vir Moses: “Hoe lank gaan hierdie volk aanhou om die rug vir My te draai en weier om My te vertrou, ten spyte van die wonderwerke wat Ek al voor hulle oë gedoen het?
12 Ek gaan ’n siekte-epidemie onder hulle instuur om hulle uit te roei. Dan maak Ek jou nageslag ’n baie magtiger volk as wat hierdie spul nog ooit was!”