3 Hierdie groep het na Moses en Aäron toe gegaan en vir hulle gesê: “Julle het nou te ver gegaan! Hierdie hele volk is vir die Here kosbaar en Hy het hulle almal vir Hom uitgekies. Wie dink julle is julle om te maak asof julle belangriker is as enigiemand anders?”
4 Toe Moses dit hoor, het hy op sy knieë neergeval en begin bid.
5 Daarna het hy vir Korag en sy trawante gesê: “Môreoggend sal die Here die persoon aanwys wat Hy uitgekies het om die leier van hierdie volk te wees asook die persoon wat Hy afgesonder het om namens die volk offers op die altaar te bring. Die Here sal die persone wat Hy uitgekies het, toelaat om Hom by sy altaar te ontmoet.
6-7 Korag, jy en jou trawante moet so maak: Kry vir julle elkeen ’n bak met warm kole in waarop julle wierook vir die Here kan brand. Bring dit dan môre na die altaar toe. Daar sal ons sien wie die Here kies as die persoon wat Hom verteenwoordig. Dis nie ons wat te ver gegaan het nie, maar eerder julle klomp Leviete wat julle te veel aanmatig.”
8 Moses het verder vir Korag en dié wat by hom was, gesê: “Julle klomp Leviete moet mooi luister!
9 Is julle nie tevrede daarmee dat die God van Israel julle tussen al die ander mense uitgekies het om in die tent van aanbidding namens die volk op te tree en hulle te bedien nie?
10 Korag, is dit nie genoeg van ’n eer vir julle nie? Wil julle nou die priesterskap ook inpalm?