13 Die eerste vars vrugte wat aan hulle bome ryp geword het en wat hulle vir My bring, behoort ook aan julle. Elkeen in jou huis wat voldoen aan my voorskrifte om My te dien by die tent waar Ek aanbid word, mag daarvan eet.
14 Elke offer wat spesiaal deur die Israeliete vir My opsy gesit word, behoort ook aan julle.
15 Die eersgebore kinders, of dit nou mens of dier is, wat aan die Here gewy word, behoort ook aan julle. Maar hier werk dit so: die eersgebore kinders en die eerstelinge van die onrein diere moet losgekoop word, sodat hulle kan teruggaan na hulle ouers en eienaars toe.
16 Hulle moet op die ouderdom van een maand losgekoop word, teen die vasgestelde prys van 55 gram silwer per kop volgens die standaardgewigte wat hier by die tent gebruik word.
17 Julle mag egter nie die eerstelinge van beeste, skape en bokke loskoop nie. Hulle moet aan My geoffer word. Hulle bloed moet as teken van my vergifnis van julle sondes teen die altaar gesprinkel word en hulle vet moet as ’n vuuroffer op die altaar verbrand word. Ek sal so ’n offer aanvaarbaar vind.
18 Die vleis behoort aan julle net soos die bors en die regterboud van die offer wat heen en weer voor My beweeg word ook aan julle behoort.
19 Al die spesiale offers wat die Israeliete vir My, die Here, bring, behoort aan jou en jou familie. Dit is ’n vaste reëling, ’n permanente ooreenkoms tussen My en jou en jou nageslag.”