16 Hulle moet op die ouderdom van een maand losgekoop word, teen die vasgestelde prys van 55 gram silwer per kop volgens die standaardgewigte wat hier by die tent gebruik word.
17 Julle mag egter nie die eerstelinge van beeste, skape en bokke loskoop nie. Hulle moet aan My geoffer word. Hulle bloed moet as teken van my vergifnis van julle sondes teen die altaar gesprinkel word en hulle vet moet as ’n vuuroffer op die altaar verbrand word. Ek sal so ’n offer aanvaarbaar vind.
18 Die vleis behoort aan julle net soos die bors en die regterboud van die offer wat heen en weer voor My beweeg word ook aan julle behoort.
19 Al die spesiale offers wat die Israeliete vir My, die Here, bring, behoort aan jou en jou familie. Dit is ’n vaste reëling, ’n permanente ooreenkoms tussen My en jou en jou nageslag.”
20 Die Here het ook vir Aäron gesê: “Nie jy of enige van die priesters sal enige grond van julle eie kry in die land waarheen Ek julle vat nie. Ek, die Here, sal sorg dat jy kry wat jy nodig het uit die offers wat vir My gebring word.”
21 “Vir hulle werk in die tent waar Ek aanbid word, gee Ek vir die Leviete die tiendes wat die Israeliete uit hulle besittings vir My bring.
22 Niemand anders mag dit selfs naby die tent waag waar Ek aanbid word nie. Dan sal hulle doodgaan.