23 Maar Sihon wou nie toelaat dat Israel deur sy gebied trek nie. Hy het sy leër bymekaargekry om die Israeliete in die woestyn aan te val. Die geveg het toe by Jahas plaasgevind.
24 Maar die Israeliete het hulle gewen en baie van hulle soldate doodgemaak. Hulle het hulle land ingeneem van die Arnonrivier af tot by die Jabbokrivier wat die grens van Ammon is. Hulle het egter nie probeer om verder te gaan nie, want hierdie grens is deur baie soldate opgepas.
25 Die Israeliete het al die stede van die Amoriete in hierdie gebied verslaan en daarin gaan bly. Ook Gesbon en sy omringende dorpe is verslaan.
26 Gesbon was die hoofstad van koning Sihon van die Amoriete. Hy het teen ’n vorige koning van Moab oorlog gemaak en toe sy hele gebied wat tot by die Arnonrivier strek, by hom afgevat.
27 Dit is oor hierdie oorwinning wat die digters vroeër ’n lied geskryf het:“Kom na Gesbon toe en bou dit weer op, herstel koning Sihon se stad!
28 “Hier van Gesbon van koning Sihon se stad af het die aanval soos ’n verwoestende veldbrand versprei. Dit het die stad Ar in Moab totaal verteer wat die Arnonhoogtes beheer het.
29 “Siestog, julle arme Moabiete! Die einde is vir julle in sig, maar julle wou mos op die god Kemos vertrou! “Maar Kemos het julle seuns aan hulle eie lot oorgelaat en nou is hulle vlugtelinge. Al julle dogters het hy deur die Amoritiese koning Sihon laat vang.