18 Net die jongmeisies wat nog maagde is, mag julle laat lewe en hulle vir julle as vroue vat.
19 Elkeen van julle wat iemand in die oorlog doodgemaak het of aan ’n lyk geraak het, moet vir sewe dae uit die kamp uit bly. Julle moet julleself en julle gevangenes op die derde en die sewende dag reinig deur die voorgeskrewe offers te bring.
20 Julle moet elke stuk klere en elke ander ding wat van leer of bokhaar of hout gemaak is, ook reinig.”
21-23 Eleasar het toe vir die soldate gesê: “Die Here het vir Moses beveel: Alle oorlogsbuit wat hitte kan verduur, soos goud, silwer, brons, yster, tin en lood, moet eers met vuur skoongebrand word en daarna met reinigingswater skoongewas word. Daarna is dit skoon en aanvaarbaar voor die Here. Alles wat nie met vuur skoongemaak kan word nie, moet net met reinigingswater gewas word.
24 Julle moet almal op die sewende dag julle klere was. Daarna sal julle weer rein wees en in die kamp kan inkom.”
25 Die Here het vir Moses gesê:
26 “Jy en Eleasar en die leiers van elke stam moet ’n opname maak van al die oorlogsbuit, dit sluit mense en diere in.