Numeri 5:7-16 DB

7 moet die skuldige persoon sy skuld bely. Verder moet die volle bedrag vir die skade wat die onskuldige gely het, plus ’n verdere twintig persent as skadevergoeding aan daardie persoon terugbetaal word.

8 As die persoon wat skade gely het, reeds dood is en nie ander familie het aan wie die skuld betaal kan word nie, behoort die geld aan die Here. Hierdie bedrag moet saam met die ram, wat geoffer moet word as bewys dat die skuldige jammer is oor sy sondes, aan die priester gegee word.

9 “Al die offers wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens aan die Here, behoort aan die priester. Dit dien as sy inkomste waarvan hy moet leef.

10 Nadat die Here se deel deur die mense wat kom offer aan Hom gegee is, behoort die res aan die priester.”

11 Toe sê die Here vir Moses:

12-15 “As ’n man agterdogtig raak en dink sy vrou het ’n verhouding met ’n ander man, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou by iemand anders geslaap het sonder dat haar man daarvan weet of sonder dat iemand dit uitgevind het. Dit kan ook wees dat, al was sy ontrou, daar geen getuie was wat haar betrap het nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou van sulke slegte dinge verdink sonder dat sy iets verkeerds gedoen het. In al hierdie gevalle moet die man sy vrou na die priester toe bring. Hy moet ook ’n offer bring van een en ’n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, want so ’n offer waar ’n man sy vrou nie vertrou nie, is ’n offer wat die waarheid aan die lig moet bring.

16 “Die priester moet die vrou dan voor die altaar in die teenwoordigheid van die Here laat staan.