9 “Al die offers wat die Israeliete na die priester toe bring vir die diens aan die Here, behoort aan die priester. Dit dien as sy inkomste waarvan hy moet leef.
10 Nadat die Here se deel deur die mense wat kom offer aan Hom gegee is, behoort die res aan die priester.”
11 Toe sê die Here vir Moses:
12-15 “As ’n man agterdogtig raak en dink sy vrou het ’n verhouding met ’n ander man, moet hy haar na die priester toe bring. Dit kan wees dat die getroude vrou by iemand anders geslaap het sonder dat haar man daarvan weet of sonder dat iemand dit uitgevind het. Dit kan ook wees dat, al was sy ontrou, daar geen getuie was wat haar betrap het nie. Dit kan ook wees dat die man agterdogtig is en sy vrou van sulke slegte dinge verdink sonder dat sy iets verkeerds gedoen het. In al hierdie gevalle moet die man sy vrou na die priester toe bring. Hy moet ook ’n offer bring van een en ’n half kilogram garsmeel. Hy moet die meel nie met olie en wierook meng nie, want so ’n offer waar ’n man sy vrou nie vertrou nie, is ’n offer wat die waarheid aan die lig moet bring.
16 “Die priester moet die vrou dan voor die altaar in die teenwoordigheid van die Here laat staan.
17 Die priester moet dan ’n bak vat, dit volmaak met water wat vir sy diens opsy gesit is en dit met stof van die tabernakel se vloer meng.
18 Dan moet hy die vrou se hare losmaak waar hulle voor die Here staan. Sy moet dan die offer vashou, sodat hulle kan sien of haar man reg was of nie. Die priester moet voor haar staan. Hy moet die bak met die water vashou wat moet wys of sy skuldig is en ’n groot straf oor haar kan bring.