18 Die nasireër moet sy hare by die ingang van die tent waar die Here aanbid word, afskeer as teken van sy toewyding aan die Here. Hierdie hare moet dan in die vuur waarmee die maaltydoffer gebring word, verbrand word.
19 “Daarna moet die priester die gekookte blad van die ram vat en dit saam met die suurdeeglose koekie en platkoekie vir die nasireër gee om in sy hande vas te hou.
20 Die priester moet dan hierdie kos heen en weer voor die Here beweeg as ’n teken dat dit aan Hom gegee word. Hierdie gawes wat so voor die Here gebring is, behoort dan aan die priester, saam met die borsstuk en die boud van die dier, wat ook in die Here se teenwoordigheid heen en weer beweeg is. Hierna is die nasireër vry om weer wyn te drink.
21 Hierdie voorskrifte moet gevolg word as die nasireër se tyd van spesiale diens aan die Here verby is. Indien ’n nasireër enigiets anders aan die Here belowe het behalwe alles wat voorgeskryf is, moet hy hierdie beloftes nakom.”
22 Die Here het vir Moses gesê:
23 “Sê vir Aäron en sy seuns om die volgende woorde te gebruik wanneer hulle die mense van Israel seën as bewys van God se goedheid in hulle lewe:
24 Die Here sal julle seën en julle oppas.