20 Toe het Avshalom, haar broer, vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Swyg egter nou, my suster! Hy is jou broer, sit jou hart nie op hierdie saak nie.” So het Tamar as ’n verlatene in die huis van haar broer Avshalom gebly.
21 Toe koning Dawid van al hierdie dinge hoor, was hy baie kwaad,
22 maar Avshalom het nie met Amnon kwaad of goed gepraat nie, want Avshalom het Amnon gehaat omdat hy sy suster Tamar onteer het.
23 Dit het gebeur na twee volle jare dat Avshalom skaapskeerders gehad het in Ba’al-Hatzor wat naby Efrayim is en Avshalom het al die koning se seuns genooi.
24 Avshalom het by die koning gekom en gesê: “Let op, u dienskneg het skaapskeerders. Laat die koning en sy diensknegte asseblief saam met u dienskneg gaan.”
25 Die koning sê egter vir Avshalom: “Nee, my seun, ons moenie almal gaan nie, want ons sal lastig wees vir jou.” Alhoewel hy by hom aangehou het, wou hy nie gaan nie, maar het hom geseën.
26 Toe sê Avshalom: “So nie, laat my broer Amnon saam met ons gaan.” Die koning sê vir hom: “Waarom moet hy saam met jou gaan?”