1 Hierna het dit gebeur dat Avshalom vir hom ’n strydwa, perde en vyftig man as hardlopers voor hom uit, voorsien het.
2 Avshalom het vroeg opgestaan en langs die pad na die poort gaan staan en Avshalom het elkeen wat ’n saak van regspraak gehad het om na die koning te bring, geroep en gesê: “Vanaf watter stad is jy?” Hy sal antwoord: “U dienaar is uit een van die stamme van Yisra’el,”
3 dan sal Avshalom vir hom sê: “Kyk, jou eise is goed en reg, maar van die koning se kant sal niemand na jou luister nie.”
4 Meer nog, Avshalom sal sê: “O, dat een my sou aanstel as regter in die land, dan sou elkeen wat ’n regsaak of rede het, na my toe kan kom en ek sal aan hom gee wat reg is.”
5 As ’n man naderkom om voor hom op die grond te lê, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom.
6 Op dié manier het Avshalom met al die Yisra’eliete gehandel wat vir regspraak na die koning gekom het; so het Avshalom die verstand, wil en emosie van die manne van Yisra’el gesteel.
7 Dit het gebeur aan die einde van vier jaar dat Avshalom vir die koning gesê het: “Laat my asseblief gaan en in Hevron my gelofte, wat ek aan יהוה gedoen het, betaal,
8 want u dienskneg het ’n gelofte gemaak terwyl ek in G’shur in Aram gebly het en gesê: “As יהוה my werklik na Yerushalayim toe sal terugbring, dan sal ek יהוה dien.”
9 Die koning het vir hom gesê: “Gaan in vrede!” Hy het opgestaan en na Hevron gegaan.
10 Avshalom het egter spioene uitgestuur regdeur al die stamme van Yisra’el om te sê: “Sodra julle die geluid van die ramshoring hoor, moet julle sê: ‘Avshalom is koning in Hevron!’”
11 Toe het twee honderd man wat genooi was, in onskuld saam met Avshalom vanaf Yerushalayim gegaan, sonder om iets te weet.
12 Avshalom het ook terwyl hy die offers bring, vir Agitofel, die Gilohniet, Dawid se raadgewer, uit sy stad, uit Giloh, laat roep. Die sameswering was sterk, want die mense by Avshalom het voortdurend vermeerder.
13 Toe kom daar ’n boodskapper by Dawid wat sê: “Die verstand, wil en emosie van die manne van Yisra’el is met Avshalom.”
14 Dawid het vir al sy diensnegte wat by hom in Yerushalayim was, gesê: “Staan op en laat ons vlug, want nie een van ons sal van Avshalom af ontsnap nie! Gaan gou, of hy sal ons gou inhaal en onheil oor ons bring en die stad met die skerpte van die swaard tref.”
15 Toe het die diensknegte van die koning vir die koning gesê: “Let op, u diensknegte doen wat ook al ons meester die koning verkies!”
16 Die koning het uitgegaan met sy hele huishouding saam met hom, maar die koning het tien byvroue agter laat bly om die huis te versorg.
17 Die koning het uitgegaan en al die mense saam met hom en hulle het by die laaste huis gestop
18 terwyl al sy diensknegte langs hom verbytrek; al die persoonlike wagte, al die boodskappers en al die Gittiete, (ses honderd man wat saam met hom gekom het vanaf Gat), het voor die koning verbygegaan.
19 Toe sê die koning vir Ittai, die Gittiet: “Hoekom sou jy ook saam met ons gaan? Draai om en bly by die koning, want jy is ’n buitelander en ook ’n banneling; gaan terug na jou eie plek.
20 Jy het net gister gekom en sal ek jou vandag laat rondswerf saam met ons terwyl ek gaan waar ek wil? Draai om en vat jou broers terug. Onverdiende guns en waarheid sal by jou wees!”
21 Ittai het egter die koning geantwoord en gesê: “So waar as יהוה leef en my meester die koning leef, waarlik, waar my meester die koning ook al sal wees, vir dood of vir lewe, daar sal u dienskneg ook wees!”
22 Dawid sê daarom vir Ittai: “Gaan, trek verby!” Ittai, die Gittiet, het verbygetrek met al sy manne en al die kinders wat by hom was.
23 Terwyl die hele land hardop gehuil het, het al die mense verbygetrek. Die koning het ook oor die Kidronspruit getrek en al die mense het deurgetrek na die pad van die wildernis.
24 Let op, Tzadok het ook gekom en al die Leviete saam met hom wat die ark van die verbond van God dra en hulle het die ark van God neergesit en Evyatar het vanaf die stad gekom totdat al die mense klaar verbygegaan het.
25 Die koning het vir Tzadok gesê: “Vat die ark van God terug na die stad toe. As ek guns vind in die oë van יהוה, sal Hy my terugbring en beide dit en Sy blyplek laat sien,
26 maar as Hy so sou sê: ‘Ek het in jou geen behae nie,’ let op, hier is ek, laat Hy met my doen soos vir Hom goed is.”
27 Die koning het ook vir Tzadok, die priester, gesê: “Is u nie ’n siener nie? Gaan in vrede terug na die stad toe en jou twee seuns saam met jou; Agima’atz, jou seun en Y’honatan, die seun van Avyatar.
28 Kyk, ek gaan by die driwwe van die wildernis wag totdat daar ’n woord van julle af kom om my in te lig.”
29 Tzadok en Avyatar het die ark van God teruggevat na Yerushalayim en daar gebly.
30 Dawid het teen die hoogte van die Olyfberg opgeklim, al huilende en sy kop was bedek en hy het kaalvoet geloop. Toe het al die mense wat by hom was hulle koppe bedek en al huilende opgegaan.
31 Iemand het vir Dawid vertel: “Agitofel is tussen die samesweerders saam met Avshalom.” Dawid het gesê: “O יהוה, ek bid, maak die raad van Agitofel dwaasheid!”
32 Let op, dit het gebeur net toe Dawid op die kruin kom, waar God aanbid is dat Hushai, die Arkiet, hom daar ontmoet, met sy oorkleed geskeur en stof op sy kop.
33 Dawid sê vir hom: “As jy saam met my verder gaan, sal jy vir my ’n las wees,
34 maar as jy terugkeer na die stad en vir Avshalom sê: “Ek sal u dienskneg wees, o koning, soos wat ek u vader se dienskneg in die verlede was, so sal ek nou u dienskneg wees,” dan kan jy vir my die raad van Agitofel verydel.
35 Is Tzadok en Avyatar, die priesters, nie saam met jou daar nie? So sal dit wees dat alles wat jy uit die huis van die koning hoor, jy aan Tzadok en Avyatar, die priesters, moet rapporteer.
36 Let op, hulle twee seuns is daar by hulle, Agima’atz van Tzadok en Y’honatan van Avyatar en deur hulle moet jy alles wat jy hoor, vir my stuur.”
37 Hushai, Dawid se vriend, het in die stad ingekom en Avshalom het Yerushalayim binnegegaan.