1 Die koning was diep aangeraak en het opgegaan na die vertrek bo die poort en gehuil en so het hy gesê terwyl hy loop: “My seun Avshalom, my seun, my seun Avshalom! As ek maar gesterf het in jou plek! Avshalom, my seun, my seun!”
2 Toe is dit vir Yo’av vertel: “Let op, die koning huil en rou oor Avshalom.”
3 Daardie dag het die oorwinning vir die hele volk in ’n rou verander omdat die volk dié dag gehoor het dat dit gesê is: “Die koning is bedroef oor sy seun.”
4 Die mense het dié dag stilletjies die stad ingekom, soos mense wat verneder is, wegsluip as hulle in die geveg gevlug het.
5 Die koning het sy gesig bedek en het uitgeroep met ’n harde stem: “My seun Avshalom! Avshalom, my seun, my seun!”
6 Toe kom Yo’av by die koning in die huis en sê: “U het vandag die gesigte van al u diensknegte, wat vandag u lewe en die lewe van u seuns en dogters en die lewe van u vroue en die lewe van u byvroue gered het, met skaamte bedek,
7 deur diegene wat u haat, lief te hê en diegene wat u liefhet, te haat, want u het vandag gewys dat prinse en diensknegte vir u niks is nie, want ek weet vandag dat, as Avshalom lewendig en ons almal vandag dood was, u tevrede sou wees.
8 Staan daarom nou op, gaan uit en praat goedhartig met u diensknegte, want ek sweer by יהוה, as u nie uitgaan nie, sal daar sekerlik vannag geen man by u bly nie en dit sal vir u groter wees as al die booshede wat oor u gekom het van u jeug af tot nou toe.”
9 Die koning het opgestaan en in die poort gaan sit. Toe hulle die hele volk laat weet en gesê het: “Let op, die koning sit in die poort,” het die hele volk voor die koning gekom. Yisra’el het gevlug, elkeen na sy tent.
10 Al die mense, van al die stamme van Yisra’el het onder mekaar getwis en gesê: “Die koning het ons bevry uit die hand van ons vyande en ons gered uit die hand van die F’lishtyne, maar nou het hy uit die land uit gevlug vir Avshalom.
11 Nietemin, Avshalom, wat ons oor ons gesalf het, het in die geveg gesterf. Waarom is julle dan nou stil daaroor om die koning terug te bring?”
12 Toe het koning Dawid na Tzadok en Avyatar, die priesters, gestuur om te sê: “Praat met die oudstes van Y’hudah en vra: ‘Waarom is julle die laastes om die koning terug te bring na sy huis, aangesien die woorde van die hele Yisra’el na die koning en sy huis gekom het?
13 Julle is my broers; my vlees en bloed. Waarom sou julle dan die laastes wees om die koning terug te bring?’
14 Vir `Amasa moet julle sê: ‘Is jy nie my vlees en bloed nie? Mag God so aan my doen en ook meer, as jy nie voortdurend die bevelvoerder van my leër voor my sal wees in die plek van Yo’av nie!”
15 So het hy die gedagtes, wil en emosie van al die manne van Y’hudah soos een man gedraai sodat hulle na die koning gestuur en gesê het: “Kom terug, u en al u diensknegte.”
16 Die koning het toe teruggegaan tot so ver as die Yarden en Y’hudah het na Gilgal gekom om die koning te gaan ontmoet, om die koning oor die Yarden te bring.
17 Toe het Shim’i, die seun van Gera, die Binyaminiet, wat uit Bagurim was, hom gehaas en saam met die jongmanne van Y’hudah afgekom om koning Dawid te ontmoet.
18 Daar was ’n duisend man uit Binyamin saam met hom, saam met Tziva, die dienskneg van die huis van Sha’ul en sy vyftien seuns en twintig diensknegte saam met hom en hulle het haastig gemaak na die Yarden toe, voor die koning.
19 Toe het hulle aangehou die drif oorsteek om die huis van die koning oor te bring en te doen wat goed was in sy oë. Shim’i, die seun van Gera, het voor die koning neergeval toe hy op die punt was om oor die Yarden te gaan.
20 Hy het vir die koning gesê: “Laat my meester my nie as skuldig beskou nie, of onthou wat u dienskneg verkeerd gedoen het op die dag dat my meester die koning uit Yerushalayim uitgekom het sodat die koning dit ter harte sou neem nie,
21 want u dienskneg weet dat ék gesondig het; daarom, let op, ek het vandag gekom, die eerste van die hele huis van Yosef om af te gaan om my meester die koning te ontmoet.”
22 Avishai, die seun van Tz’ruyah, het egter geantwoord: “Moet Shim’i nie hieroor doodgemaak word omdat hy die gesalfde van יהוה gevloek het nie?”
23 Toe sê Dawid: “Wat het ek met julle te doen, seuns van Tz’ruyah, dat julle vandag my teëstanders sal wees? Moet enige mens vandag in Yisra’el doodgemaak word? Want weet ek nie vandag dat ek koning oor Yisra’el is nie?”
24 Die koning sê vir Shim’i: “Jy sal nie sterf nie.” So het die koning vir hom gesweer.
25 Toe kom M’fivoshet, die kleinseun van Sha’ul, af om die koning te ontmoet en hy het nie sy voete versorg, of sy snor geskeer, of sy klere gewas, van die dag af dat die koning weggegaan het tot op die dag dat hy in vrede teruggekom het nie.
26 Dit was toe hy vanaf Yerushalayim gekom het om die koning te ontmoet dat die koning vir hom sê: “Waarom het jy nie saam met my gegaan nie, M’fivoshet?
27 Hy antwoord: “My meester die koning, my dienskneg het my mislei, want u dienskneg het gedink: ‘Ek sal vir myself ’n donkie opsaal dat ek daarop kan ry en saam met die koning gaan,’ want u dienskneg is lam.
28 Meer nog, hy het sleg gepraat van u dienskneg by my meester die koning, maar my meester die koning is soos die engel van God, doen daarom wat goed is in u oë,
29 want my vader se hele huishouding was niks anders as dooie mense voor my meester die koning nie; tog het u u dienskneg geplaas onder die wat aan u eie tafel eet. Watter reg het ek steeds dat ek nog by die koning sal kla?”
30 Toe sê die koning vir hom: “Waarom praat jy nog oor jou sake? Ek het besluit: jy en Tziva sal die land verdeel.”
31 M’fivoshet het die koning geantwoord: “Laat hom selfs alles vat, aangesien my meester die koning veilig na sy eie huis gekom het.”
32 Barzillai, die Gil’adiet, het afgekom vanaf Roglim en saam met die koning na die Yarden gegaan om hom oor die Yarden te vergesel.
33 Barzillai was baie oud, reeds tagtig jaar oud en hy het die koning onderhou gedurende sy verblyf in Maganayim, want hy was ’n baie belangrike man.
34 Die koning het vir Barzillai gesê: “Trek saam met my oor, dan sal ek jou by my in Yerushalayim onderhou.”
35 Barzillai het egter die koning geantwoord: “Hoe lank het ek nog om te leef dat ek saam met die koning sou opgaan na Yerushalayim?
36 Ek is nou tagtig jaar oud. Kan ek tussen goed en kwaad onderskei, of kan u dienskneg proe wat ek eet en wat ek drink, of kan ek steeds die stem van sangers en sangeresse hoor? Waarom sal u dienskneg dan ’n verdere las wees vir my meester die koning?
37 U dienskneg sal vrolik saam met die koning oor die Yarden trek. Waarom sou die koning my betaal met hierdie beloning?
38 Laat asseblief u dienskneg teruggaan dat ek in my eie stad, naby die graf van my vader en my moeder, sterf. Nietemin, hier is u dienskneg Khimham, laat hom saam met my meester die koning oorgaan en doen vir hom wat goed is in u oë.”
39 Die koning antwoord: “Khimham kan saam met my oorgaan en ek sal vir hom doen wat goed is in jou oë en alles wat jy van my verwag, sal ek vir jou doen.”
40 Al die mense het oor die Yarden gegaan en die koning het ook oorgegaan. Toe soen die koning vir Barzillai en seën hom en hy het na sy plek toe teruggegaan.
41 Die koning het aangegaan na Gilgal en Khimham het saam met hom gegaan en al die mense van Y’hudah en ook die helfte van die mense van Yisra’el het die koning vergesel.
42 Let op, al die manne van Yisra’el kom by die koning en sê vir die koning: “Waarom het ons broers, die manne van Y’hudah, u weggesteel en die koning en sy huis en al die manne van Dawid saam met hom oor die Yarden gebring?”
43 Toe antwoord al die manne van Y’hudah die manne van Yisra’el: “Omdat die koning naby verwant is aan ons. Waarom is jy dan kwaad oor hierdie saak? Het ons enigsins iets ten koste van die koning geëet, of is enige iets vir ons gevat? 44 Die manne van Yisra’el het egter die manne van Y’hudah geantwoord en gesê: “Ons het tien aandele aan die koning; daarom het ons ook meer reg op Dawid as julle. Waarom het julle ons met minagting behandel? Was dit nie ons advies eerste om ons koning terug te bring nie?” Tog was die woorde van die manne van Y’hudah heftiger as die woorde van die manne van Yisra’el.