1 Toe het Dawid die manne getel wat by hom was en bevelvoerders oor duisend en bevelvoerders oor honderd oor hulle aangestel.
2 Dawid het die manne uitgestuur: ’n derde deel onder bevel van Yo’av, ’n derde onder Avishai, die seun van Tz’ruyah, die broer van Yo’av en ’n derde onder Ittai, die Gittiet en die koning het vir die manne gesê: “Ek sal sekerlik ook saam met julle uitgaan.”
3 Die manne het egter gesê: “U mag nie uittrek nie, want as ons moet vlug, sal hulle nie oor ons omgee nie; selfs al sterf die helfte van ons, hulle sal nie oor ons omgee nie, maar u is tien duisend van ons werd; daarom is dit nou beter dat u gereed is om ons van die stad af te help.
4 Toe sê die koning vir hulle: “Wat vir julle die beste is, sal ek doen.” Die koning het langs die poort gestaan en al die manne het uitgegaan in honderde en in duisende.
5 Die koning het Yo’av, Avishai en Ittai beveel en gesê: “Werk sagkens met die jongman, Avshalom, vir my onthalwe. Al die manne het gehoor toe die koning aan al die bevelvoerders bevel gee aangaande Avshalom.
6 Toe gaan die manne uit, die veld in, teen Yisra’el en die geveg het plaasgevind in die woud van Efrayim.
7 Die manne van Yisra’el is daar voor die diensknegte van Dawid verslaan en die slagting was dié dag daar groot, twintig duisend man,
8 want die geveg is daar uitgesprei oor die hele platteland en die woud het daardie dag meer mense verteer as wat die swaard verteer het.
9 Avshalom het onverwags die diensknegte van Dawid ontmoet, want Avshalom het op sy muil gery en die muil het onder die digte takke van ’n groot eikeboom ingegaan en sy kop het in die eikeboom vasgehaak sodat hy tussen hemel en aarde bly hang het terwyl die muil, wat onder hom was, aanhou loop het.
10 Toe ’n sekere man dit sien, het hy Yo’av vertel en gesê: “Let op, ek het Avshalom in ’n eikeboom sien hang.”
11 Toe sê Yo’av vir die man wat hom vertel het: “Nou, let op, het jy gesíen!? Waarom het jy hom dan nie daar teen die grond neergeslaan nie? Ek sou vir jou tien silwerstukke en ’n gordel gegee het.”
12 Die man sê vir Yo’av: “Selfs al sou ek ook ’n duisend silwerstukke in my hand ontvang, sou ek nie my hand uitsteek teen die seun van die koning nie, want die koning het vir u, Avishai en Ittai voor ons ore beveel en gesê: ‘Beskerm die jongman, Avshalom, vir my!’
13 Anders, as ek vals teen sy lewe opgetree het en daar is niks verborge vir die koning nie, dan sou u self opsy gestaan het.”
14 Toe sê Yo’av: “Ek wil nie tyd hier by jou mors nie!” Hy vat drie spiese in sy hand en druk hulle deur die hart van Avshalom terwyl hy nog lewendig was in die eikeboom.
15 Tien jongmanne wat Yo’av se wapens gedra het, het nadergekom en Avshalom gesteek en hom gedood.
16 Toe blaas Yo’av die ramshoring en die manne het teruggedraai daarvan om Yisra’el te agtervolg, want Yo’av het die manne teruggehou.
17 Hulle het Avshalom gevat en hom in die woud in ’n groot put gegooi en ’n baie groot hoop klippe bo-op hom gestapel en die hele Yisra’el het gevlug, elkeen na sy tent.
18 Tydens sy leeftyd het Avshalom ’n gedenksteen in die koningsvallei opgerig vir homself, want, het hy gesê: “Ek het geen seun om my naam te bewaar nie.” Hy het die gedenksteen na homself vernoem en dit word tot vandag toe die gedenkteken van Avshalom genoem.
19 Daarop sê Agima’atz, die seun van Tzadok: “Laat my asseblief hardloop en aan die koning die boodskap bring dat יהוה hom bevry het van die hand van sy vyande.”
20 Yo’av sê egter vir hom: “Jy is nie die man om vandag ’n boodskap te dra nie, maar jy kan anderdag ’n boodskap dra, maar jy sal geen boodskap vandag dra nie omdat die seun van die koning dood is.”
21 Toe sê Yo’av vir die Kushiet: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het!” Die Kushiet het voor Yo’av gebuig en gehardloop.
22 Agima’atz, die seun van Tzadok, het weer ’n keer vir Yo’av gesê: “Wat ook al gebeur, laat my asseblief ook agter die Kushiet aan hardloop.” Yo’av vra: “Waarom wil jy hardloop, my seun, aangesien jy geen beloning sal ontvang as jy gaan nie?”
23 “Maar wat ook al gebeur,” sê hy, “ek sal hardloop.” Hy antwoord hom toe: “Hardloop!” Toe hardloop Agima’atz met die vlakte langs en steek die Kushiet verby.
24 Dawid het tussen die twee poorte gesit en die wag het opgegaan na die dak van die poort op die muur en sy oë opgeslaan en let op, ’n man wat alleen hardloop.
25 Die wag het uitgeroep en die koning vertel en die koning sê: “As hy alleen is, dan is daar ’n goeie boodskap in sy mond.” Hy het ál nader en nader gekom.
26 Toe sien die wag ’n ander man hardloop en die wag het na die poortwag geroep en gesê: “Let op, daar hardloop nog ’n man op sy eie. Die koning sê: “Hierdie een bring ook ’n goeie boodskap.”
27 Die wag het gesê: “Ek dink die hardloop van die eerste een is soos die hardloop van Agima’atz, die seun van Tzadok.” Die koning sê: “Hierdie is ’n goeie man wat kom met ’n goeie boodskap.”
28 Agima’atz het uitgeroep en aan die koning gesê: “Vrede!” Hy het homself voor die koning neergebuig met sy gesig op die grond en gesê: “Geseënd is יהוה, u God, wat die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my meester die koning opgelig het.”
29 Die koning vra: “Gaan dit goed met die jongman, Avshalom?” Agima’atz antwoord: “Toe Yo’av die dienskneg van die koning, u dienskneg gestuur het, het ek ’n groot opskudding gesien, maar ek het nie geweet wat dit was nie.”
30 Toe sê die koning: “Draai opsy en staan hier.” Toe draai hy opsy en staan stil.
31 Let op, die Kushiet arriveer en die Kushiet sê: “My meester die koning, ontvang goeie nuus, want יהוה het u vandag bevry van die hand van al dié wat teen u opgestaan het.”
32 Toe vra die koning vir die Kushiet: “Gaan dit goed met die jongman, Avshalom?” Die Kushiet antwoord: “Laat die vyande van my meester die koning en almal wat teen u opstaan vir boosheid, wees soos daardie jongman!”
33 Sien 19:1