1 Yo’av, die seun van Tz’ruyah, het gesien dat die koning se verstand, wil en emosie na Avshalom uitgegaan het.
2 Yo’av het na T’koa gestuur en ’n wyse vrou van daar af laat haal en vir haar gesê: “Hou asseblief voor om een te wees wat rou en trek rouklere aan en moet jouself nie met olie salf nie, maar wees soos ’n vrou wat al baie dae rou oor ’n dooie.
3 Gaan dan na die koning toe en praat so met hom.” Yo’av het die woorde in haar mond gelê.
4 Nou, toe die vrou uit T’koa met die koning praat, val sy op haar gesig op die grond en lê op die grond en het gesê: “Help, o koning!”
5 Die koning het vir haar gevra: “Wat is jou moeilikheid?” Sy het geantwoord: “Waarlik, ek is ’n weduwee, want my man is dood.
6 U dienares het twee seuns gehad, maar die twee van hulle het met mekaar geveg in die veld en daar was niemand om hulle uitmekaar te maak nie sodat een die ander geslaan en hom gedood het.
7 Nou let op, die hele familie het teen u dienares opgestaan en hulle sê: ‘Gee hom wat sy broer doodgeslaan het oor sodat ons hom kan doodmaak vir die lewe van sy broer wat hy vermoor het en die erfgenaam ook vernietig.’ So wil hulle dan my kool wat oorgebly het, uitdoof, om vir my man geen naam of oorblyfsel op die aardbodem te laat bly nie.”
8 Toe sê die koning vir die vrou: “Gaan na jou huis toe en ek sal aangaande jou bevele gee.”
9 Die vrou uit T’koa sê vir die koning: “My meester, die koning; die wetsoortreding is op my en my vader se huis, maar die koning en sy troon is skuldloos.”
10 Die koning het gesê: “Wie ook al met jou praat, bring hom na my toe en hy sal nie weer aan jou raak nie.”
11 Toe sê sy: “Laat die koning asseblief יהוה, u God, onthou sodat die bloedwreker nie sal aanhou vernietig nie, anders sal hulle my seun vernietig.” Hy sê: “So waar as יהוה leef, nie een haar van jou seun sal op die grond val nie!”
12 Toe sê die vrou: “Laat asseblief u dienares ’n woord met my meester die koning praat.” Hy antwoord: “Praat.”
13 Die vrou sê: “Waarom het u dan so iets beplan teen die volk van God? Want deur hierdie woord te sê, is die koning, soos een wat skuldig is, deurdat die koning nie sy verstote een laat terugkom nie,
14 want ons sal sekerlik sterf en is soos water wat uitgegooi word op die grond, wat ’n mens nie weer kan bymekaarmaak nie. Tog vat God nie die lewe weg nie, maar beplan metodes dat die verstote een nie van Hom af weggegooi sal word nie.
15 Die rede hoekom ek hierdie boodskap vir my meester die koning gebring het, is omdat die mense my bang gemaak het. U dienares het gedink: ‘Laat ek nou met die koning praat, miskien sal die koning die versoek van sy dienares toestaan,
16 want die koning sal luister en sy dienares bevry uit die hand van die man wat probeer om beide my en my seun te vernietig uit die erfenis van God.’
17 Toe het u dienares gesê: ‘Laat die woord van my meester die koning asseblief vertroostend wees, want soos die boodskapper van God, so is my meester die koning om goed en boos te onderskei en mag יהוה, u God, by u wees!’”
18 Toe antwoord die koning en sê vir die vrou: “Moet asseblief nie enige iets vir my wegsteek wat ek jou sal vra nie.” Die vrou het gesê: “Laat my meester die koning asseblief praat.”
19 Die koning het gevra: “Is Yo’av se hand saam met jou in dit alles?” Die vrou antwoord: “So waar as wat u leef, my meester die koning, niemand kan regs of links afwyk van enige iets wat my meester die koning gesê het nie. Inderdaad, dit was u dienskneg Yo’av wat my beveel het en dit is hy wat al hierdie woorde in u dienares se mond gelê het.
20 Om dinge anders te laat lyk, het u dienskneg Yo’av hierdie ding gedoen, maar my meester is wys, soos die wysheid van die boodskapper van God, om alles te weet wat op die aarde is.”
21 Toe sê die koning vir Yo’av: “Nou let op, ek sal dit doen. Gaan daarom, bring die jongman Avshalom terug.”
22 Yo’av het op sy gesig op die grond neergeval, uitgestrek op die grond gelê en die koning geseën. Toe sê Yo’av: “My meester die koning, vandag weet u dienskneg dat ek guns in u oë gevind het omdat die koning die versoek van sy dienskneg uitgevoer het.”
23 Yo’av het opgestaan, na G’shur gegaan en vir Avshalom na Yerushalayim gebring.
24 Die koning het egter gesê: “Laat hom na sy eie huis gaan en nie my gesig sien nie.” Avshalom het na sy eie huis gegaan en nie die gesig van die koning gesien nie.
25 Nou, in die hele Yisra’el was daar geen man so aantreklik soos Avshalom en so hoog geprys nie; van sy voetsool af tot by die kroon van sy kop, was daar geen gebrek aan hom nie.
26 Wanneer hy die hare van sy kop laat skeer het, (dit was aan die einde van elke jaar dat hy dit geskeer het), want dit was swaar op hom; daarom het hy dit geskeer; het hy die hare van sy kop teen twee honderd sikkels geweeg volgens die koninklike gewig.
27 Vir Avshalom is drie seuns gebore en een dogter met die naam van Tamar, sy was ’n vrou van pragtige voorkoms.
28 Avshalom het twee volle jare in Yerushalayim gebly en hy het nie die gesig van die koning gesien nie.
29 Toe het Avshalom Yo’av laat roep, om hom na die koning te stuur, maar hy wou nie na hom toe kom nie. Hy het vir ’n tweede keer gestuur, maar hy wou nie kom nie.
30 Hy sê daarom vir sy diensknegte: “Kyk, Yo’av se land is langs myne en hy het gars daarop; gaan steek dit aan die brand.” Avshalom se diensknegte het die land aan die brand gesteek.
31 Toe staan Yo’av op, kom by Avshalom in sy huis en vra vir hom: “Waarom het jou diensknegte my land aan die brand gesteek?”
32 Avshalom antwoord Yo’av: “Let op, ek het na jou gestuur en gesê: ‘Kom hier dat ek jou na die koning kan stuur om te vra: “Waarvoor het ek van G’shur af gekom? Dit sou vir my beter wees om nog daar te wees”.’ Nou, daarom, laat my die gesig van die koning sien en as daar oortreding by my is, laat hy my doodmaak.”
33 Toe Yo’av by die koning kom en hom vertel, het hy Avshalom laat roep. Dus het hy na die koning gegaan en plat op die grond voor die koning op sy gesig gaan lê en die koning het Avshalom gesoen.