1 Dawid het weer in Siklag aangekom na sy geveg teen die Amalekiete. Dit was net na Saul se dood. Hulle was so twee dae terug in die dorp,
2 toe kom daar ’n man aan wat saam met Saul in die oorlog was. Sy klere was geskeur en hy het grond op sy kop gehad. Toe hy by Dawid kom, het hy op sy knieë gaan staan en laag gebuig.
3 Toe Dawid hom vra waar hy vandaan kom, antwoord die man: “Ek het weggekom uit die oorlog waarin die Israeliete veg.”
4 “Wat het gebeur? Vertel my!” sê Dawid.Die jongman vertel toe hoe die manskappe gevlug het, hoe baie daar dood is en dat Saul en sy seun Jonatan ook dood is.
5 “Maar hoe weet jy Saul en sy seun Jonatan is dood?” vra Dawid.
6 Die man wat die boodskap gebring het, sê: “Ek was heel toevallig op Gilboaberg. Daar sien ek toe vir Saul waar hy swaar op sy spies leun. Die soldate in die strydwaens was al op hom.
7 Hy kyk toe om en sien my raak. Hy wink my nader, en ek vra vir hom: ‘Kan ek help?’
8 Toe vra hy my: ‘Wie is jy?’ Ek sê toe: ‘Ek is ’n Amalekiet.’
9 Hy sê vir my: ‘Kom staan hier by my en gee my die doodsteek. Ek haal nog asem, maar ek is gedaan.’
10 Ek het toe by hom gaan staan en hom doodgesteek, want ek het geweet hy sal dit nie maak nadat hy so sleg verloor het nie. Ek het die tulband om sy kop en die armband om sy arm afgehaal en dit vir u gebring. Hier is dit.”
11 Dawid het sy klere gegryp en dit stukkend geskeur. Al sy manne het dieselfde gedoen.
12 Hulle het daardie hele dag niks geëet nie. Hulle het gehuil en hardop uitgeroep: “Arme Saul! Arme Jonatan! Die arme volk van die Here! Die arme Israeliete wat in die oorlog dood is!”
13 Dawid het vir die jongman wat die boodskap gebring het, gevra: “Hoe het jy gesê, waar kom jou mense vandaan?”Hy antwoord hom: “My pa is ’n Amalekiet wat net vir ’n rukkie in die land bly.”
14 Dawid sê vir hom: “O so, en toe is jy nie eens bang om jou hand vir die gesalfde koning van die Here op te tel en hom dood te maak nie!”
15 Dawid roep toe een van sy jongmanne. “Kom hier!” sê hy vir hom. “Maak dié man van kant!”Die man het toe die Amalekiet doodgemaak.
16 Dawid se laaste woorde aan hom was: “Jou dood kan nie gewreek word nie, want jy het met jou eie mond erken dat jy die dood verdien toe jy gesê het: ‘Ek het self die gesalfde koning van die Here die doodsteek gegee.’”
17 Dawid het ’n treurlied oor Saul en sy seun Jonatan gedig.
18 Die lied se naam is “Die Boog”. Dit is opgeteken in die Boek van die helde. Dawid het gesê al die mense van Juda moet dit leer. Dit klink só:
19 Israel, op jou berge lê jou beste manne dood!Die helde het geval!
20 Vertel dit nie in Askelon, in Gat nie;hou dié nuus dig vir elke mens op straat!Want anders is die heidene weer bly,hou die Filistyne se vroue ’n fees!
21 Gilboaberg, jou vervloekte plek!Ek wens dit dou nooit op jou nie,ek hoop dit reën nooit op jou hoë weiveld nie.Op jóú lê daar ’n held se skild in die grond getrap.Dis Saul se skild vol bloed.Niemand sal dit ooit weerby die huis met olie smeer nie.
22 Jonatan se booghet altyd raak geskiet.Ja, jy kon maar weet:wanneer hy en Saul hulle swaarde uittrek,dan loop die bloed!
23 Saul en Jonatan, sy seun - die mense was baie lief vir hulle. Hulle was altyd bymekaar;nou is hulle ook saam in die dood.Hulle was so vinnig soos valke,so dapper soos leeus.
24 Vroue van Israel,julle moet huil oor Saul,oor die man wat vir julledie mooiste klere en juwele gegee het.
25 Die helde het gevaltoe die geveg op sy kwaaiste was.Op die berge van Israel lê Jonatan se lyk!
26 Ek is so hartseer oor jou, my broer,my heel beste vriend.Jou vriendskap was vir my meer werdas al die vroue se liefde.
27 Die helde het geval;hulle wapens is tot niet.