1 ’n Man met die naam Seba was toevallig in Gilgal. Hy was Bikri se seun uit die stam van Benjamin. Hy was ’n regte niksnut. Hy het op ’n ramshoring geblaas en geskree: “Ons het niks met Dawid te doen nie! Die seun van Isai is nie van ons mense nie! Kom ons gaan huis toe, Israeliete!”
2 Al die Israeliete het vir Dawid gelos en is saam met Seba, seun van Bikri. Maar die mans van Juda het by hulle koning gebly en saam met hom gegaan van die Jordaanrivier af tot by Jerusalem.
3 Toe Dawid in sy paleis in Jerusalem kom, het hy die tien haremvroue wat hy daar gelos het om die paleis op te pas gevat en hulle eenkant in ’n huis laat oppas. Hy het vir hulle gesorg, maar hy het nooit weer by hulle geslaap nie. Solank hulle geleef het, het hulle so eenkant gebly. Hulle was eintlik maar so te sê weduwees.
4 Die koning het vir Amasa gesê: “Maak al die manne van Juda wat kan veg, vir my binne drie dae bymekaar. Sorg dat jy self ook hier is.”
5 Amasa het die manne bymekaar gaan maak, maar dit het langer gevat as drie dae.
6 Toe sê Dawid vir Abisai: “Seba, daardie seun van Bikri, gaan nou vir ons meer probleme gee as Absalom. Vat jý my soldate en kry hom in die hande voor hy dalk in ’n stad ingaan wat mure om het en onder ons oë uit is.”
7 Abisai is toe met Joab en sy manne en die koning se lyfwag en sy dapper soldate van Jerusalem af agter Seba aan.
8 By die groot klip in Gibeon het Amasa na hulle toe gekom. Joab het sy oorlogsklere aangehad. Hy het sy swaard in ’n skede bo-oor sy klere vasgemaak. Toe hy vorentoe kom, het sy swaard uitgeval.
9 Joab sê vir Amasa: “En hoe gaan dit, ou broer?” en hy vat hom met sy regterhand aan die baard asof hy vir Amasa wil soen.
10 Amasa het nooit die mes in Joab se ander hand gesien nie. Hy het Amasa se maag oopgekloof sodat sy binnegoed op die grond geval het. Dit was nie nodig om hom ’n tweede steek te gee om hom dood te maak nie. Joab en sy broer Abisai het toe maar net verder geloop om Seba te gaan soek.
11 Een van Joab se manne het by Amasa gaan staan en geskree: “As julle van Joab hou en vir Dawid is, volg Joab!”
12 Amasa het in die middel van die pad in ’n plas bloed gelê en krul van die pyn. Toe die man sien al die manskappe gaan by Amasa staan, het hy hom uit die pad gesleep die veld in. Toe hy sien almal gaan staan nog om te kyk, het hy hom met klere toegegooi.
13 Daarna het al die manskappe agter Joab aangegaan om vir Seba, seun van Bikri, te gaan soek.
14 Joab het by al die stamme van Israel gesoek tot hy Seba in Abel (dis nou Bet-Maäka) gekry het. Al die Beriete het bymekaargekom en ook saam met Joab gegaan.
15 Hulle het Seba in Abel-Bet-Maäka vasgekeer. Hulle het ’n skuins wal teen die voormuur van die stad gepak en so kon al die soldate by die groot muur om die stad kom. Hulle het teen die muur gestamp om dit te laat val.
16 ’n Slim vrou het bo van die muur af geskree: “Haai, hoor hierso! Sê asseblief vir Joab hy moet hiernatoe kom! Ek wil met hom praat!”
17 Joab het nader gegaan en die vrou het vir hom gevra: “Is u Joab?”“Ja,” antwoord Joab.“Kan ek maar vir u iets sê?” vra sy.“Ja, ek luister,” sê hy.
18 Die vrou sê toe: “Daar was ’n ou spreekwoord wat gesê het: ‘As jy regtig probleme het, sal hulle dit vir jou in Abel oplos.’
19 Ons is bekend as vredeliewende, getroue Israeliete. Nou wil u ’n stad wat ’n voorbeeld is in Israel se mense doodmaak. Hoekom wil u ’n plek vernietig wat aan die Here behoort?”
20 “Nee, nooit!” antwoord Joab. “Ek is nie daarop uit om te vernietig en te verwoes nie!
21 Dís nie my plan nie! Maar hier is iemand by julle wat teen koning Dawid in opstand is. Hy kom van die Efraimberge af en sy naam is Seba, seun van Bikri. As julle hóm net vir my gee, dan los ek die stad uit.”Die vrou sê vir Joab: “U kan seker wees sy kop sal vir u van die muur afgegooi word.”
22 Die vrou het die mense in die stad oortuig en hulle het Seba se kop afgekap en dit vir Joab gegooi. Joab het op ’n ramshoring geblaas en sy manskappe het sommer reguit huis toe gegaan. Joab self is terug na die koning toe in Jerusalem.
23 Joab was die hoof van die hele weermag van Israel. Jojada se seun Benaja was die hoof van die koning se lyfwag.
24 Adoniram moes sorg dat die slawewerk gedoen word. Josafat, Agilud se seun, was die regering se sekretaris.
25 Sewa moes alles vir die regering opskryf en Sadok en Abjatar was die belangrikste priesters.
26 Ira, wat van Jaïr af gekom het, was ook een van Dawid se priesters.