1 Net toe Dawid oor die top van die Olyfberg is, kom hy af op Siba, die man wat vir Mefiboset in die huis werk. Hy het ’n hele span donkies wat opgesaal was, by hom gehad. Op die donkies was 200 brode, 100 pakke rosyntjies, ’n klomp ryp vrugte en ’n groot kruik wyn.
2 “Wat wil jy daarmee maak?” vra die koning hom.“Die donkies is vir die koning se gesin om op te ry en die brood en die vrugte is vir die manne. Die wyn is vir dié wat gedaan raak in die woestyn,” antwoord Siba.
3 “En waar is Saul se kleinseun?” vra die koning.“Nee, hy het in Jerusalem agtergebly,” sê Siba. “Hy dink mos die Israeliete gaan hom vandag weer koning maak soos sy oupa was.”
4 Toe sê die koning vir Siba: “In daardie geval is al Mefiboset se goed nou joune.”“Baie, baie dankie, U Majesteit,” sê Siba, “u is baie goed vir my.”
5 Toe koning Dawid by Bagurim kom, kom een van Saul se familie uit die dorp uit. Sy naam was Simeï. Hy was Gera se seun. Sommer met die uitkomslag
6 begin hy vir Dawid en sy amptenare vloek en hulle met klippe gooi waar hulle tussen die soldate en sy beste vegters staan.
7 Hy vloek en skree vir Dawid: “Voertsek, jou moordenaar! Jou lae vent!
8 Die Here betaal jou nou terug vir al Saul se mense wat jy laat doodmaak het toe jy die koningskap gesteel het! Die Here het nou vir Absalom koning gemaak en jy’s in die moeilikheid oor jy ’n moordenaar is!”
9 Abisai, Seruja se seun, sê vir Dawid: “Maar waar kom dié dooie hond daaraan om my koning so te vloek? Laat ek soontoe gaan en sy kop vir hom inmekaar slaan!”
10 Maar die koning sê: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Laat die man vloek. Miskien het die Here vir hom gesê hy moet my vloek. Wie kan dan vir hom sê: ‘Hoekom doen jy dit?’”
11 Dawid sê toe verder vir Abisai en al sy amptenare: “My bloedeie kind wil my doodmaak. Wat moet ’n mens dan van hierdie Benjaminiet verwag? Los hom uit. Laat hy maar vloek. Dalk het die Here vir hom gesê hy moet dit doen.
12 Wie weet, dalk sien die Here my moeilikheid raak en gee Hy my later iets goeds vir die gevloek wat ek vandag moet verduur.”
13 Dawid en sy mense het padlangs verder geloop. Simeï het al teen die rant geloop. Hy het nog steeds gevloek en hulle met klippe en kluite gegooi.
14 Die koning en al die mense wat saam met hom was, was stokflou toe hulle in die Jordaanvallei ingaan. Daar het die koning eers ’n bietjie gerus.
15 Absalom en al die mans van Israel het in Jerusalem aangekom. Agitofel was ook by.
16 Toe Gusai, Dawid se vriend, by Absalom kom, sê hy vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”
17 Absalom sê vir hom: “Is dít hoe lank jou vriendskap hou? Hoekom het jy nie saam met jou vriend gegaan nie?”
18 “Nee,” sê Gusai vir Absalom, “ek is vir die man wat deur die Here gekies is en wat deur hierdie mense en al die Israeliete gekies is. By hóm sal ek staan.
19 Buitendien, ek móét mos my vriend se seun dien. Soos ek vir u pa gewerk het, sal ek vir u werk.”
20 Daarna sê Absalom vir Agitofel: “Komaan, gee raad! Wat moet ons nou doen?”
21 Agitofel gee toe vir Absalom hierdie raad: “Slaap by jou pa se haremvroue wat hy hier gelos het om die paleis op te pas. Al die Israeliete moet weet dat jy jou pa in die gesig gevat het, dan sal hulle nog sterker by jou staan.”
22 Hulle het toe vir Absalom ’n seil op die dak van die paleis gespan, en hy het daar voor al die Israeliete by sy pa se haremvroue geslaap.
23 As Agitofel daardie tyd raad gegee het, was dit so goed of jy het ’n antwoord van God self af gekry. Dit is wat Dawid en Absalom van Agitofel se raad gedink het.