1 Hierna het daar ’n lelike ding gebeur. Dawid se seun Absalom het ’n suster gehad. Haar naam was Tamar. Sy was baie mooi en haar halfbroer Amnon was verlief op haar.
2 Hy was skoon siek soos hy die hele dag oor Tamar, sy halfsuster, geloop en dink het. Hy kon nie naby haar kom nie, want sy was nog ’n jongmeisie wat eenkant moes bly.
3 Amnon en sy neef Jonadab, Samma se seun, was maats. Jonadab het altyd slim planne gehad.
4 Op ’n dag vra hy vir Amnon: “Hoekom lyk jy elke dag so moedeloos, prins? Wil jy nie maar vir my sê wat jou pla nie?”“Ek is verlief op Tamar, my halfbroer Absalom se suster,” sê Amnon.
5 Jonadab gee hom toe hierdie raad: “Gaan lê op jou bed, dan maak jy of jy siek is. Jou pa sal kom kyk hoe dit gaan, dan sê jy vir hom jou suster Tamar moet na jou toe kom om vir jou die kos te maak wat ’n siek mens nodig het. Sê vir hom sy moet dit daar voor jou kom maak en jou dan voer.”
6 Amnon het toe gaan lê en gemaak of hy siek is. Toe die koning kom kyk hoe dit met hom gaan, sê Amnon vir die koning: “Laat my suster Tamar asseblief kom en hier voor my twee hartbroodjies bak en my dan voer.”
7 Dawid het Tamar laat haal uit die huis waar die jongmeisies bly en vir haar gesê: “Gaan na jou broer Amnon se huis toe en maak vir hom kos wat hom beter sal laat voel.”
8 Tamar is toe na haar halfbroer se huis toe. Hy was nog in die bed. Sy het deeg gevat en dit geknie. Sy het hartbroodjies gemaak en dit gebak. Hy het haar die hele tyd dopgehou.
9 Sy het die broodjies uit die bakpan gegooi en voor hom neergesit. Maar hy wou nie eet nie. Hy het gesê al die mans moet eers uit die kamer uitgaan. Toe almal uit die kamer is,
10 sê hy vir Tamar: “Bring die broodjies na die agterste kamer, dan voer jy my daar.” Tamar het die hartbroodjies wat sy gebak het, vir Amnon in die agterste kamer gevat.
11 Toe sy by hom kom om hom te voer, gryp hy haar en sê: “Kom lê by my in die bed!”
12 Maar sy het gesê: “Nee, my broer! Moenie my verkrag nie! Ons doen nie so iets in Israel nie! Moenie ’n dom ding doen nie!
13 Wat moet van my word as ek so ’n skande oorkom? Dink aan jouself! Almal in Israel sal dink jy’s ’n skurk! Praat liewer met die koning; ek is seker hy sal my met jou laat trou.”
14 Maar hy wou nie na haar luister nie. En omdat hy sterker was as sy, het hy haar vasgedruk en verkrag.
15 Toe hy met haar klaar is, wou hy niks met haar te doen hê nie. So verlief as wat hy voor die tyd was, so min wou hy daarna met haar te doen hê. Hy het vir haar gesê: “Staan op! Gaan uit my huis uit!”
16 “Nee!” sê sy vir hom. “As jy my nou wegjaag, doen jy nog ’n leliker ding as wat jy alreeds gedoen het.”Maar hy wou nie na haar luister nie.
17 Hy roep toe sy kamerbediende en sê vir hom: “Smyt hierdie vrou uit my huis uit en sluit die deur!”
18 Die bediende het haar uit die huis uitgesit en die deur agter haar toegesluit.Tamar het ’n lang rok met moue aangehad. Al die prinsesse wat nog jongmeisies was, het so aangetrek.
19 Toe sy buite kom, het sy haar lang rok geskeur en grond op haar kop gegooi. Sy het met haar hande op haar kop daar weggeloop en die hele tyd hard geskree.
20 Toe sy by haar broer Absalom kom, sê hy vir haar: “Daardie broer Amnon van jou het dit gedoen, nè? Toemaar, my ou sus! Moenie daaroor praat nie, hoor! Hy’s darem jou broer. Moenie jou te veel daaroor kwel nie.”Tamar het by haar broer Absalom ingetrek. Sy was ’n gebroke mens.
21 Toe koning Dawid hoor wat alles gebeur het, was hy woedend.
22 Absalom het Amnon gehaat omdat hy sy suster Tamar verkrag het, maar hy het nie ’n woord met hom daaroor gepraat nie.
23 Twee jaar later was die skeerders besig om Absalom se skape te skeer by Baäl-Gasor, naby die dorp Efraim. Hy wou al die koning se seuns daarheen nooi
24 en het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “My mense is op die oomblik besig om my skape te skeer. Wil die koning en sy amptenare nie maar vir die fees na my toe oorkom nie?”
25 “Nee, my seun,” sê die koning. “Ons kan nie almal na jou toe gaan nie. Ons sal te veel mense wees.”Absalom het by sy pa aangehou, maar Dawid wou nie saamgaan nie en het vir Absalom gesê hy hoop dit gaan goed met die skeerdery.
26 “Kan my broer Amnon dan nie maar net saamgaan nie?” het Absalom gevra.“Maar hoekom moet hy saamgaan?” het die koning gevra.
27 Absalom het só by hom aangehou dat die koning naderhand vir Amnon en al sy seuns saamgestuur het.
28 Absalom het ’n groot fees gehou en vir sy manne gesê: “Julle moet wakker wees! As Amnon vrolik begin raak van die wyn en ek sê vir julle: ‘Steek hom dood!’ dan moet julle hom doodmaak. Julle hoef nie bang te wees nie. Ek sal die skuld kry daarvoor. Wees julle net sterk en vasberade!”
29 Absalom se manne het toe met Amnon gedoen wat hy vir hulle gesê het. Al die koning se seuns het van die tafel af opgespring, elkeen op sy muil gespring en weggejaag.
30 Hulle was nog op pad, toe kom die nuus by Dawid aan dat Absalom al die koning se seuns vermoor het en dat nie een oorgebly het nie.
31 Die koning het van sy stoel af opgespring en sy klere geskeur. Toe het hy op die grond gaan lê. Al sy amptenare het met geskeurde klere daar om hom gestaan.
32 Jonadab, Dawid se broerskind, sê toe: “U Majesteit, u hoef nie bang te wees dat al die jongmans, al u seuns, dood is nie. Ek dink net Amnon is dood. Dit was Absalom se bedoeling van die dag af dat Amnon sy suster verkrag het.
33 U Majesteit moet regtig nie die storie glo dat al u seuns dood is nie. Dis net Amnon wat dood is.”
34 Absalom het natuurlik intussen gevlug.Die man wat by die paleis waggehou het, het skielik aan die westekant ’n klomp mense gesien wat teen die bult afkom.
35 Jonadab sê toe vir die koning: “Daar kom die prinse! Sien u, dis net soos ek vir u gesê het!”
36 Sy woorde was nog nie koud nie, toe kom die koning se seuns by die paleis aan. Hulle het sommer hardop begin huil. Die koning en al sy amptenare het ook sonder ophou gehuil dat die trane loop.
37 Absalom het na Talmai, Ammigur se seun, toe gevlug. Talmai was die koning van Gesur. Dawid het baie lank oor sy seun Amnon gehuil.
38 So het Absalom dan na Gesur toe gevlug. Hy het sowat drie jaar daar gebly.
39 Dawid het ’n plan gehad om teen Absalom te gaan oorlog maak, want hy was nog bitter oor Amnon se dood.