1 Dawid het lekker in sy paleis gebly. Niemand het hom gepla nie, want die Here het al die vyande in die lande om hom op hulle plek gehou.
2 Eendag sê die koning vir Natan, die profeet: “Kyk hier, ek bly in ’n paleis wat met duur hout gebou is, maar die ark van God staan nog al die tyd in ’n tent.”
3 Daarop antwoord Natan: “Doen wat u graag wil doen. Die Here sal u help.”
4 Maar daardie nag het die Here met Natan gepraat:
5 “Gaan sê vir Dawid Ek het gesê: ‘Jy wil vir My ’n huis bou om in te bly;
6 maar Ek het nog nooit in ’n huis gebly nie, van daardie tyd af wat Ek die Israeliete laat wegtrek het uit Egipte tot nou toe. Oral waar Ek gegaan het, was my woonplek ’n tent.
7 Ek het nooit, op enige plek waar Ek by die Israeliete was, iets oor ’n huis gesê nie. Ek het nooit vir enige van die leiers wat Ek aangestel het om vir my volk Israel te sorg, gevra hoekom bou hulle nie vir My ’n huis met duur hout nie.’
8 “Daarom moet jy nou vir my getroue werker, vir Dawid, gaan sê wat Ek, die magtige Here, sê. Sê vir hom: ‘Ek self het jou agter die skape gaan haal om ’n leier vir my mense, die Israeliete, te wees.
9 Ek het jou gehelp oral waar jy gegaan het. Ek het al jou vyande voor jou weggevee en Ek het jou een van die beroemdste mense op aarde gemaak.
10 Ek het vir my volk, vir Israel, ’n plek gegee waar hulle altyd kan bly. Niemand pla hulle meer nie, en daar is nie meer slegte mense wat hulle laat swaarkry soos vroeër
11 in die tyd toe Ek regters oor my volk aangestel het nie. Jou vyande pla jou ook nie meer nie.“‘Ek, die Here, sê nou vir jou dat Ek vir jóú ’n huis gaan bou, ’n koningshuis.
12 Wanneer jy die dag doodgaan en begrawe word, sal Ek sorg dat jou eie seun koning word en Ek sal sorg dat hy lank koning bly.
13 Hý sal vir My ’n huis bou waarin Ek self sal wees. En Ek sal sorg dat iemand van sy nageslag altyd koning is.
14 Ek sal vir hom soos ’n pa wees en hy sal vir My soos ’n seun wees. As hy ’n fout maak, sal Ek hom straf soos ’n pa sy seun straf.
15 Maar Ek sal nie my rug vir hom draai soos Ek dit met Saul gedoen het en jou toe in sy plek gesit het nie.
16 Een van jou eie familie sal altyd daar wees en altyd regeer. Daar sal altyd een van jou eie mense op jou troon wees.’”
17 Natan het al hierdie woorde, alles wat die Here vir hom gesê het, presies net so vir Dawid gaan sê.
18 Koning Dawid het toe in die tent ingegaan en by die ark van die Here gaan sit. Hy het gebid: “Wie is ek, groot Here, en wie is my familie dat U my tot hier gebring het?
19 Asof U nie al genoeg gedoen het nie, groot Here, het U toe ook nog aan my familie wat lank ná my kom, beloftes gemaak. Is dít wat U vir gewone mense soos ons wil sê, groot Here?
20 Wat kan iemand soos ek, Dawid, daaroor sê? U ken my tog goed, groot Here.
21 U het hierdie groot ding gedoen omdat U dit wóú doen en omdat U gesê het U gaan dit doen. En nou het U dit vir mý ook vertel!
22 U is regtig groot, Here my God. Daar is niemand soos U nie, en behalwe U is daar geen god nie. Dit weet ons vir seker.
23 “En watter ander mense is so gelukkig soos die Israeliete, u volk? Hulle is die enigste mense op aarde wat ’n God het wat hulle uit die moeilikheid gehelp het en hulle sy eie volk gemaak het. U het vir Uself naam gemaak toe U groot wonderwerke gedoen het en ander nasies en hulle gode uit hierdie land uitgejaag het om plek te maak vir u mense wat U uit Egipte vrygemaak het.
24 U het die Israeliete u eie volk gemaak vir altyd. En Here, U is hulle God.
25 “Nou vra ek, Here my God, dat U asseblief die belofte wat U gemaak het vir hierdie werker van U en vir sy familie, vir altyd waar sal maak; ja, dat U sal doen wat U gesê het U gaan doen.
26 Mense sal dan altyd met groot respek van U praat en sê: ‘Die magtige Here is Israel se God.’“En laat die koningshuis van Dawid u werker asseblief nie tot niet gaan nie.
27 Magtige Here, God van Israel, U het tog self vir my gesê dat U vir my ’n huis sal bou. Dit is hoekom ek die moed gehad het om te bid soos ek gebid het.
28 Groot Here, U alleen is God. U woorde word waar; ook hierdie mooi woorde wat U vir my gesê het.
29 Maak dan nou asseblief my koningshuis voorspoedig. Gee tog dat my nageslag altyd naby U sal wees. Groot Here, U het ’n belofte gemaak en as U ons help, sal dit altyd met ons goed gaan.”