1 Die Here het weer ’n keer vir die Israeliete kwaad geword. Toe het Hy Dawid teen hulle opgesteek en gesê: “Gaan hou ’n sensus in Israel en Juda.”
2 Die koning het vir Joab, sy groot generaal, gesê: “Gaan by al die stamme van Israel langs, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide, en skryf al die manskappe op. Ek wil weet hoeveel is daar wat kan veg.”
3 Joab het die koning geantwoord: “Kyk, ek hoop die Here u God maak die manskappe ’n honderd maal meer as wat hulle alreeds is, en ek hoop dit gebeur nog in u leeftyd; maar U Majesteit, hoekom wil u ’n sensus hou?”
4 Maar die koning het Joab en die ander offisiere van die weermag doodgepraat. Hulle het toe van die paleis af gegaan om die sensus te gaan hou.
5 Hulle het oor die Jordaanrivier gegaan en by die spruit suid van die dorp Aroër begin tel. Daarna is hulle na Gad en Jaeser toe.
6 Hulle het noord deur Gilead gegaan tot by Kades in die rigting van die Hetiete se land. Daarvandaan het hulle na Dan-Jaän gegaan en toe wes na Sidon gedraai.
7 Hulle is suid na Tirus, die stad met die muur om, en van daar af is hulle na al die dorpe van die Hewiete en Kanaäniete. Hulle is by al die dorpe langs tot in die suide van Juda by Berseba.
8 Hulle het die hele land deurgegaan. Dit het nege maande en twintig dae gevat voor hulle weer terug was in Jerusalem.
9 Joab het die getal van die manne wat kon veg, vir die koning gegee: daar was 800 000 in Israel en 500 000 in Juda.
10 Na die sensus het Dawid se gewete hom begin pla. Hy het vir die Here gaan sê: “Dis ’n verkeerde ding wat ek gedoen het, Here; vergewe my asseblief dat ek so onnosel was.”
11 Die volgende môre toe Dawid opstaan, kom die profeet Gad na hom toe. Hy moes altyd vir Dawid sê wat die Here wil hê.
12-13 Hierdie keer moes hy vir Dawid gaan sê: “Die Here sê jy kan kies wat Hy met jou moet doen: moet daar drie jaar hongersnood wees in jou land, of wil jy drie maande vlug vir jou vyande, of moet daar vir drie dae ’n pessiekte in jou land wees? Dink mooi daaroor, dan sê jy vir my wat ek vir die Here moet gaan sê.”
14 Dawid het vir Gad gesê: “Ek is diep in die moeilikheid! Al wat ek kan sê, is: ek wil nie aan mense uitgelewer wees nie. Laat ons liewer aan die Here uitgelewer wees, want Hy sal ons jammer kry.”
15 Die Here het daardie môre ’n pessiekte in Israel laat uitbreek wat vir drie dae aangehou het. In die hele land is daar 70 000 mense dood.
16 Toe die doodsengel sy hand na Jerusalem toe uitsteek om ook dáár dood en verwoesting te saai, het die Here spyt gekry oor die verskriklike ramp en gesê: “Wag, dis nou genoeg. Moenie verder gaan nie.”Die engel van die Here was op daardie stadium by ’n groot klipplaat waar Arauna, ’n Jebusiet, sy koring dors.
17 Toe Dawid sien hoe die engel die mense platslaan, sê hy vir die Here: “Dis ék wat gesondig het. Dis ék wat verkeerd gedoen het. Hierdie arme mense verdien dit nie om soos skape geslag te word nie. Straf my en my familie liewer.”
18 Gad het dieselfde dag na Dawid toe gekom en gesê: “Gaan bou ’n altaar vir die Here op daardie klipplaat waar Arauna die Jebusiet sy koring dors.”
19 Dawid het toe na die klipplaat toe opgeklim soos die Here vir hom gesê het in die boodskap wat Gad gebring het.
20 Toe Arauna afkyk en sien die koning en sy amptenare is op pad na hom toe, het hy gegaan en met sy gesig teen die grond voor die koning gebuig.
21 Arauna vra toe: “U Majesteit, waarom kom u na my toe?”“Ek wil jou dorsvloer koop om vir die Here ’n altaar te bou,” sê Dawid vir hom, “sodat die pessiekte wat die mense doodmaak, kan ophou.”
22 “Vat dit, U Majesteit,” sê Arauna vir Dawid, “offer net wat u wil. U kan my beeste slag en die dorsslee en jukke vir vuurmaakhout gebruik.
23 U Majesteit, Arauna gee dit alles vir u. En mag die Here u offer aanvaar.”
24 “Nee, Arauna,” sê Dawid, “ek gaan jou definitief die volle prys betaal. Ek kan nie vir die Here my God offer sonder dat dit my iets gekos het nie.”Dawid het toe die dorsvloer en die beeste vir 50 silwerstukke by hom gekoop.
25 Dawid het daar vir die Here ’n altaar gebou en offerdiere geslag. Party het hy heeltemal verbrand en die ander is vir die heilige ete gaargemaak. Die Here het toe die mense se gebede beantwoord en die pessiekte laat ophou.