1 Joab, Seruja se seun, het agtergekom dat die koning nog steeds iets teen Absalom het.
2 Joab laat haal toe ’n slim vrou uit Tekoa en sê vir haar: “Maak of een van jou mense dood is en trek rouklere aan. Moenie enige parfuum of grimering aansit nie. Dit moet lyk of jy al lank huil oor ’n familielid wat dood is.
3 Gaan dan na die koning toe en sê vir hom só.” Hy sê toe vir haar presies wat sy moet sê.
4 Die vrou van Tekoa is toegelaat om met die koning te praat. Sy het op haar knieë voor hom gaan staan en met haar gesig teen die grond gebuig. Sy het gesê: “Help my asseblief, my koning!”
5 “Wat is verkeerd?” het die koning vir haar gevra.Sy het geantwoord: “My man is dood en ek is ’n arme weduwee.
6 Ek het twee seuns gehad, U Majesteit. Eendag het hulle op die land stry gekry. Daar was niemand wat hulle uitmekaar kon maak nie en toe het die een die ander een so geslaan dat hy dood is.
7 Nou is die hele familie teen my, U Majesteit. Hulle wil hê ek moet die een wat sy boetie doodgeslaan het, vir hulle gee sodat hulle hóm ook kan doodmaak. Hulle wil hê hy moet met sy lewe betaal vir sy broer se dood, al is hy die enigste erfgenaam. Hulle wil die laaste ou kooltjie vuur wat ek het, doodmaak. As dít gebeur, is daar niemand wat my oorlede man se naam kan laat voortleef of sy stukkie grond kan bewerk nie.”
8 “Jy kan maar huis toe gaan,” het die koning vir haar gesê. “Ek sal sorg dat dit nie gebeur nie.”
9 Maar die vrou van Tekoa sê vir hom: “U Majesteit, maar my skoonfamilie gaan my en my eie familie beskuldig. Hulle sal nie die vinger na u of u regering wys nie.”
10 “As iemand iets daaroor te sê het, bring jy hom net na my toe. Ek verseker jou, hy sal jou nie weer pla nie,” sê die koning.
11 “U Majesteit,” sê die vrou, “u moet asseblief voor die Here u God sweer dat u sal keer dat die een wat wraak wil neem my seun doodmaak en so nog meer moeilikheid veroorsaak.”Die koning sê toe vir haar: “Ek sweer voor die Here, hulle sal nie aan jou seun raak nie.”
12 “Mag ek nog iets vir u sê, U Majesteit?” vra die vrou.“Ja, sê maar,” antwoord die koning.
13 Toe sê die vrou: “Waarom het u dan ’n plan gehad om wraak te neem op iemand wat aan God se volk behoort? Toe U Majesteit nou net gesê het hulle mag nie wraak neem op my seun nie, het u uself eintlik skuldig verklaar. Mag u verlore seun dan nie terugkom nie?
14 “Ons sal almal eendag doodgaan. ’n Mens kan iemand wat dood is nie weer terugbring nie. Dis soos wanneer ’n mens water op die grond uitgooi; jy kan dit nie weer terugkry nie. God vergewe nie sommer moord nie, maar Hy wil tog hê dat iemand wat ’n balling is, weer na Hom en sy volk moet terugkom.
15 “Ek het dit gewaag om met my koning hieroor te kom praat. Omdat die mense my bang maak, het ek gedink: ‘Ek sal met die koning gaan praat. Miskien sal hy doen wat hierdie nederige vrou vir hom vra.
16 Miskien sal die koning luister en hierdie vrou help teen die man wat my en my seun saam wil afkry van die grond af wat God vir ons gegee het.’
17 “Ek het ook gedink: ‘Die uitspraak wat my koning gaan gee, sal die saak oplos, want my koning is soos ’n engel uit die hemel wanneer hy ’n saak moet beoordeel.’ “Dis al wat ek wou sê. Mag die Here u God u help.”
18 Die koning sê toe vir die vrou: “Ek wil vir jou iets vra, maar jy moet my baie eerlik antwoord.”“Vra maar, U Majesteit,” sê die vrou.
19 “Het Joab iets hiermee te doen?” vra hy haar.“U Majesteit,” sê sy, “’n mens kan sowaar niks vir u wegsteek nie! Ja, dit was u generaal, Joab, wat vir my gesê het om dit te doen. Hý het ook vir my alles gesê wat ek vir u moet sê.
20 Joab het dit gedoen sodat u ’n bietjie uit ’n ander hoek na die saak kan kyk. Maar, U Majesteit, u is so slim soos ’n engel uit die hemel; u weet alles wat in die land gebeur.”
21 Die koning het daarna vir Joab gesê: “Ja goed, ek sal doen wat jy wil hê. Laat die jongman Absalom maar terugkom.”
22 Joab het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig. Hy het vir die koning baie dankie gesê. Hy het verder gesê: “U Majesteit, ek weet nou dat u vir my omgee, want u doen wat ek gevra het.”
23 Joab het daar opgestaan en Gesur toe gegaan. Hy het vir Absalom teruggebring Jerusalem toe.
24 Maar die koning het gesê: “Hy moet reguit na sy huis toe gaan. Ek wil hom nie sien nie.”Absalom is toe reguit na sy huis toe sonder om die koning te sien.
25 Daar was in die hele land nie nog so ’n mooi mens soos Absalom nie. Almal het hom bewonder. Hy was ’n volmaakte man, van kop tot tone.
26 Hy het ’n welige bos hare gehad. Een keer ’n jaar het hy sy hare afgeskeer omdat dit te lank geword het. Die afgeskeerde hare het omtrent twee kilogram geweeg volgens die gewigte van die staat.
27 Absalom het drie seuns en ’n dogter gehad. Sy dogter se naam was Tamar. Sy was ’n beeldskone vrou.
28 Absalom het vir twee jaar in Jerusalem gebly sonder dat hy ooit toegelaat is om by die koning te kom.
29 Hy laat weet toe vir Joab hy wil hom sien. Hy wou hê Joab moes hom na die koning toe vat. Maar Joab wou nie na sy huis toe kom nie. Absalom het weer vir hom ’n boodskap gestuur, maar hy het nie gekom nie.
30 Toe sê Absalom vir sy werkers: “Julle ken mos Joab se stuk land hier langs myne waar hy die gars geplant het. Gaan steek dit aan die brand!”Die werkers het die stuk land aan die brand gesteek.
31 Joab het dadelik na Absalom se huis toe gekom en hom gevra: “Hoekom het jou werkers my land aan die brand gesteek?”
32 “Omdat ek jou hoeveel maal laat weet het ek wil jou sien!” sê Absalom vir hom. “Ek wil jou na die koning toe stuur. Jy moet vir hom gaan vra hoekom ek teruggekom het van Gesur af. Ek kon maar net sowel daar gebly het! Die koning moet my toelaat om hom te sien. As ek skuldig is, moet hy my maar laat doodmaak.”
33 Joab het dit vir die koning gaan sê. Die koning het Absalom laat roep. Toe hy by die koning kom, het hy met sy gesig tot teen die grond gebuig. Die koning het Absalom omhels.