11 Dawid het sy klere gegryp en dit stukkend geskeur. Al sy manne het dieselfde gedoen.
12 Hulle het daardie hele dag niks geëet nie. Hulle het gehuil en hardop uitgeroep: “Arme Saul! Arme Jonatan! Die arme volk van die Here! Die arme Israeliete wat in die oorlog dood is!”
13 Dawid het vir die jongman wat die boodskap gebring het, gevra: “Hoe het jy gesê, waar kom jou mense vandaan?”Hy antwoord hom: “My pa is ’n Amalekiet wat net vir ’n rukkie in die land bly.”
14 Dawid sê vir hom: “O so, en toe is jy nie eens bang om jou hand vir die gesalfde koning van die Here op te tel en hom dood te maak nie!”
15 Dawid roep toe een van sy jongmanne. “Kom hier!” sê hy vir hom. “Maak dié man van kant!”Die man het toe die Amalekiet doodgemaak.
16 Dawid se laaste woorde aan hom was: “Jou dood kan nie gewreek word nie, want jy het met jou eie mond erken dat jy die dood verdien toe jy gesê het: ‘Ek het self die gesalfde koning van die Here die doodsteek gegee.’”
17 Dawid het ’n treurlied oor Saul en sy seun Jonatan gedig.