1 Die volgende lente, in die tyd wanneer die konings gewoonlik gaan oorlog maak, het Dawid sy eie soldate saam met Joab en al die manskappe van Israel gestuur om teen die Ammoniete te veg. Hulle het die Ammoniete kafgeloop en hulle in Rabba, hulle hoofstad vasgekeer. Dawid was nie by nie; hy het in Jerusalem agtergebly.
2 Laat een middag, net na sy middagslapie, het hy op die dakstoep van die paleis rondgestap. Hy sien toe van die dak af ’n vrou wat besig is om te bad. Dit was ’n baie mooi vrou.
3 Dawid het iemand gestuur om te gaan uitvind wie sy is. Die man kom sê toe vir hom: “Dit is Eliam se dogter Batseba; sy is getroud met Urija, ’n Hetiet.”
4 Dawid het mense gestuur om haar te gaan haal, en toe sy by hom kom, het hy by haar geslaap. (Sy het haar juis gewas na haar menstruasie.) Na die tyd is sy weer terug huis toe.
5 Die vrou het toe Dawid se baba verwag en vir hom laat weet: “Ek verwag jou kind.”
6 Dawid het vir Joab laat weet: “Stuur Urija, die Hetiet, na my toe.”Joab het Urija na Dawid toe gestuur.
7 Toe hy by Dawid kom, vra Dawid vir hom hoe dit met Joab en die manskappe gaan en of dit goed gaan met die oorlog.