17 Die soldate van die stad het uitgekom om teen Joab te veg. Van Dawid se soldate is in die geveg dood. Urija, die Hetiet, was een van hulle.
18 Joab het vir Dawid laat weet hoe dit gaan met die oorlog.
19 Hy het vir die man wat die boodskap na Dawid moes neem, mooi gesê: “As jy vir die koning alles klaar vertel het van die geveg,
20 sal hy dalk kwaad word en vir jou sê: ‘Maar hoekom het julle so naby die muur van die stad geveg? Het julle nie geweet hulle gaan julle bo van die muur af met goed bestook nie?
21 Het julle vergeet wat met Abimelek, Jerubbeset se seun, by Tebes gebeur het? ’n Vrou het hom dan met ’n maalklip bo van die muur af doodgegooi! Hoekom het julle so naby die muur gekom?’ Dan moet jy maar net vir die koning sê: ‘Daardie soldaat van u, Urija, die Hetiet, is ook dood.’”
22 Die man het na Dawid toe gegaan en alles oorvertel wat Joab gesê het.
23 Hy het gesê: “Die manne van die stad was sterker as ons. Hulle het na ons toe uitgekom in die veld. Ons het hulle tot by die hekke van die stad teruggedryf,