21 Het julle vergeet wat met Abimelek, Jerubbeset se seun, by Tebes gebeur het? ’n Vrou het hom dan met ’n maalklip bo van die muur af doodgegooi! Hoekom het julle so naby die muur gekom?’ Dan moet jy maar net vir die koning sê: ‘Daardie soldaat van u, Urija, die Hetiet, is ook dood.’”
22 Die man het na Dawid toe gegaan en alles oorvertel wat Joab gesê het.
23 Hy het gesê: “Die manne van die stad was sterker as ons. Hulle het na ons toe uitgekom in die veld. Ons het hulle tot by die hekke van die stad teruggedryf,
24 maar toe skiet hulle op ons bo van die muur af met pyl en boog. Van U Majesteit se soldate is daar dood. Urija, die Hetiet, is ook dood.”
25 Dawid het vir die man gesê: “Gaan sê vir Joab hy moenie sleg voel daaroor nie. Mense gaan maar dood in ’n oorlog. Sê vir hom hy moet nog harder probeer en die stad met die grond gelyk maak. Sê vir hom hy moet dapper wees!”
26 Toe Urija se vrou hoor haar man is dood, het sy ’n week lank by die huis gebly om te rou.
27 Na die week verby is, het Dawid haar na die paleis toe laat bring. Hy is met haar getroud en toe die baba gebore is, was dit ’n seun.Maar die Here het niks gehou van wat Dawid gedoen het nie.