13 Dawid het vir Natan gesê: “Ek het ’n vreeslike verkeerde ding teen die Here gedoen!”Natan het geantwoord: “Die Here sal die fout wat jy gemaak het, oorsien: jy sal nie die doodstraf kry nie,
14 maar die kind wat gebore is, sal vir seker doodgaan, want jy het die Here in die gesig gevat toe jy hierdie verskriklike ding gedoen het.”
15 Nadat Natan daar weg is huis toe, het die Here die kind van Dawid en Urija se vrou laat siek word.
16 Dawid het God mooi gevra om die kind te laat bly lewe. Hy het niks geëet nie en daardie nag in sy kamer op die grond gelê. Hy het rouklere aangetrek.
17 Sy ou paleiswerkers het hom gesoebat om van die grond af op te staan, maar hy wou nie en hy wou ook niks saam met hulle eet nie.
18 ’n Week later is die kind dood. Dawid se werksmense was te bang om dit vir hom te sê. Hulle het vir mekaar gesê: “Toe die kind nog geleef het, het ons mooi met hom gepraat, maar hy wou glad nie na ons luister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy doen dalk ’n lelike ding!”
19 Dawid het gesien sy werksmense praat so saggies met mekaar. Toe weet hy die kind is dood. Hy vra toe vir hulle: “Is die kind dood?”“Ja, hy is dood,” het hulle geantwoord.