17 Sy ou paleiswerkers het hom gesoebat om van die grond af op te staan, maar hy wou nie en hy wou ook niks saam met hulle eet nie.
18 ’n Week later is die kind dood. Dawid se werksmense was te bang om dit vir hom te sê. Hulle het vir mekaar gesê: “Toe die kind nog geleef het, het ons mooi met hom gepraat, maar hy wou glad nie na ons luister nie. Hoe kan ons nou vir hom sê die kind is dood? Hy doen dalk ’n lelike ding!”
19 Dawid het gesien sy werksmense praat so saggies met mekaar. Toe weet hy die kind is dood. Hy vra toe vir hulle: “Is die kind dood?”“Ja, hy is dood,” het hulle geantwoord.
20 Dawid het van die grond af opgestaan en hom gewas. Hy het olyfolie aan sy vel gesmeer en skoon klere aangetrek. Hy het na die altaar van die Here toe gegaan en voor die Here op sy knieë gaan staan. Daarna het hy na die paleis toe teruggegaan en vir sy mense gesê hy wil eet. Hulle het vir hom kos gegee en hy het dit geëet.
21 Die paleiswerkers sê toe vir hom: “Hoe moet ons dit verstaan? Vir so lank as wat die kind geleef het, het u niks geëet nie en gehuil, maar nou dat die kind dood is, staan u op en u eet?”
22 Dawid het hulle geantwoord: “Toe die kind nog geleef het, het ek niks geëet nie en gehuil omdat ek gedink het miskien sal die Here my jammer kry en die kind laat leef.
23 Maar nou is hy dood. Hoekom moet ek nog sonder kos bly? Ek kan nie die kind terugbring nie. Ek sal na hom toe gaan, maar hy kan nie na my toe terugkom nie.”