23 Twee jaar later was die skeerders besig om Absalom se skape te skeer by Baäl-Gasor, naby die dorp Efraim. Hy wou al die koning se seuns daarheen nooi
24 en het na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “My mense is op die oomblik besig om my skape te skeer. Wil die koning en sy amptenare nie maar vir die fees na my toe oorkom nie?”
25 “Nee, my seun,” sê die koning. “Ons kan nie almal na jou toe gaan nie. Ons sal te veel mense wees.”Absalom het by sy pa aangehou, maar Dawid wou nie saamgaan nie en het vir Absalom gesê hy hoop dit gaan goed met die skeerdery.
26 “Kan my broer Amnon dan nie maar net saamgaan nie?” het Absalom gevra.“Maar hoekom moet hy saamgaan?” het die koning gevra.
27 Absalom het só by hom aangehou dat die koning naderhand vir Amnon en al sy seuns saamgestuur het.
28 Absalom het ’n groot fees gehou en vir sy manne gesê: “Julle moet wakker wees! As Amnon vrolik begin raak van die wyn en ek sê vir julle: ‘Steek hom dood!’ dan moet julle hom doodmaak. Julle hoef nie bang te wees nie. Ek sal die skuld kry daarvoor. Wees julle net sterk en vasberade!”
29 Absalom se manne het toe met Amnon gedoen wat hy vir hulle gesê het. Al die koning se seuns het van die tafel af opgespring, elkeen op sy muil gespring en weggejaag.