26 “Kan my broer Amnon dan nie maar net saamgaan nie?” het Absalom gevra.“Maar hoekom moet hy saamgaan?” het die koning gevra.
27 Absalom het só by hom aangehou dat die koning naderhand vir Amnon en al sy seuns saamgestuur het.
28 Absalom het ’n groot fees gehou en vir sy manne gesê: “Julle moet wakker wees! As Amnon vrolik begin raak van die wyn en ek sê vir julle: ‘Steek hom dood!’ dan moet julle hom doodmaak. Julle hoef nie bang te wees nie. Ek sal die skuld kry daarvoor. Wees julle net sterk en vasberade!”
29 Absalom se manne het toe met Amnon gedoen wat hy vir hulle gesê het. Al die koning se seuns het van die tafel af opgespring, elkeen op sy muil gespring en weggejaag.
30 Hulle was nog op pad, toe kom die nuus by Dawid aan dat Absalom al die koning se seuns vermoor het en dat nie een oorgebly het nie.
31 Die koning het van sy stoel af opgespring en sy klere geskeur. Toe het hy op die grond gaan lê. Al sy amptenare het met geskeurde klere daar om hom gestaan.
32 Jonadab, Dawid se broerskind, sê toe: “U Majesteit, u hoef nie bang te wees dat al die jongmans, al u seuns, dood is nie. Ek dink net Amnon is dood. Dit was Absalom se bedoeling van die dag af dat Amnon sy suster verkrag het.