5 “Wat is verkeerd?” het die koning vir haar gevra.Sy het geantwoord: “My man is dood en ek is ’n arme weduwee.
6 Ek het twee seuns gehad, U Majesteit. Eendag het hulle op die land stry gekry. Daar was niemand wat hulle uitmekaar kon maak nie en toe het die een die ander een so geslaan dat hy dood is.
7 Nou is die hele familie teen my, U Majesteit. Hulle wil hê ek moet die een wat sy boetie doodgeslaan het, vir hulle gee sodat hulle hóm ook kan doodmaak. Hulle wil hê hy moet met sy lewe betaal vir sy broer se dood, al is hy die enigste erfgenaam. Hulle wil die laaste ou kooltjie vuur wat ek het, doodmaak. As dít gebeur, is daar niemand wat my oorlede man se naam kan laat voortleef of sy stukkie grond kan bewerk nie.”
8 “Jy kan maar huis toe gaan,” het die koning vir haar gesê. “Ek sal sorg dat dit nie gebeur nie.”
9 Maar die vrou van Tekoa sê vir hom: “U Majesteit, maar my skoonfamilie gaan my en my eie familie beskuldig. Hulle sal nie die vinger na u of u regering wys nie.”
10 “As iemand iets daaroor te sê het, bring jy hom net na my toe. Ek verseker jou, hy sal jou nie weer pla nie,” sê die koning.
11 “U Majesteit,” sê die vrou, “u moet asseblief voor die Here u God sweer dat u sal keer dat die een wat wraak wil neem my seun doodmaak en so nog meer moeilikheid veroorsaak.”Die koning sê toe vir haar: “Ek sweer voor die Here, hulle sal nie aan jou seun raak nie.”