12 Dan kan ons hom op enige plek aanval. Ons sal op hom toesak soos ’n bui reën op ’n land. Wegkomkans sal daar nie vir hom of enige van die manne by hom wees nie.
13 En as hy in ’n stad met mure om is, bring al die Israeliete toue en ons sleep daardie hele stad in die vallei in. Van daardie stad sal daar nie een klip op die ander oorbly nie.”
14 Absalom en al die manne van Israel het gesê Gusai die Erekiet se plan is beter as Agitofel s’n. Dit was eintlik maar die Here wat besluit het om Agitofel se goeie plan in die wiele te ry, want Hy wou hê ’n ramp moet Absalom tref.
15 Gusai het vir Sadok en Abjatar, die twee priesters, gaan sê: “Dit is die raad wat Agitofel vir Absalom en die leiers van Israel gegee het en dit is die raad wat ek gegee het.
16 Laat weet dadelik vir Dawid hy moenie vannag by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei slaap nie. Hy moet deur die rivier gaan, anders is dit klaarpraat met die koning en die mense by hom.”
17 Jonatan en Agimaäs het by Rogelfontein gewag, want niemand moes hulle in die stad sien nie. ’n Slavin sou vir hulle die boodskap bring, en hulle sou dit dan weer vir koning Dawid vat.
18 Maar ’n jong seun het hulle gesien en dit vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het so vinnig moontlik padgegee na die huis van iemand in Bagurim wat ’n put in sy binnehof gehad het. Hulle het in die put afgeklim