16 Laat weet dadelik vir Dawid hy moenie vannag by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei slaap nie. Hy moet deur die rivier gaan, anders is dit klaarpraat met die koning en die mense by hom.”
17 Jonatan en Agimaäs het by Rogelfontein gewag, want niemand moes hulle in die stad sien nie. ’n Slavin sou vir hulle die boodskap bring, en hulle sou dit dan weer vir koning Dawid vat.
18 Maar ’n jong seun het hulle gesien en dit vir Absalom gaan vertel. Jonatan en Agimaäs het so vinnig moontlik padgegee na die huis van iemand in Bagurim wat ’n put in sy binnehof gehad het. Hulle het in die put afgeklim
19 en die vrou het ’n doek oor die put gespan. Sy het garsmeel op die doek gegooi en dit oopgekrap sodat niemand iets sou agterkom nie.
20 Die manne van Absalom het in die vrou se huis ingegaan en vir haar gevra waar Agimaäs en Jonatan is. Sy het geantwoord: “Hulle is daar by die kraal verby af rivier toe.”Die manne het gesoek, maar niks gekry nie. Hulle is toe weer terug Jerusalem toe.
21 Na hulle weg is, het Jonatan en Agimaäs uit die put geklim en vir koning Dawid gaan sê watter plan Agitofel vir Absalom gegee het, en dat hy daarom baie gou deur die rivier moes gaan.
22 Dawid en al die mense by hom het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek. Die volgende môre toe dit lig word, was almal deur die rivier.