19 en die vrou het ’n doek oor die put gespan. Sy het garsmeel op die doek gegooi en dit oopgekrap sodat niemand iets sou agterkom nie.
20 Die manne van Absalom het in die vrou se huis ingegaan en vir haar gevra waar Agimaäs en Jonatan is. Sy het geantwoord: “Hulle is daar by die kraal verby af rivier toe.”Die manne het gesoek, maar niks gekry nie. Hulle is toe weer terug Jerusalem toe.
21 Na hulle weg is, het Jonatan en Agimaäs uit die put geklim en vir koning Dawid gaan sê watter plan Agitofel vir Absalom gegee het, en dat hy daarom baie gou deur die rivier moes gaan.
22 Dawid en al die mense by hom het daardie nag nog deur die Jordaanrivier getrek. Die volgende môre toe dit lig word, was almal deur die rivier.
23 Toe Agitofel sien die mense volg nie sy raad nie, het hy sy donkie opgesaal, sy goedjies gevat en na die dorp toe gery waar hy gebly het. Hy het vir sy huismense ’n paar laaste goed gesê wat hulle moet doen en homself toe opgehang. Hy is dood en hulle het hom in die familiegraf begrawe.
24 Dawid het in Maganajim aangekom net toe Absalom en al die manne van Israel deur die Jordaanrivier trek.
25 Absalom het vir Amasa aangestel as generaal in Joab se plek. (Amasa se pa was ’n man met die naam Jeter, ’n Israeliet wat met Abigal getroud was. Abigal was Nagas se dogter. Sy was weer ’n suster van Seruja, Joab se ma.)