11 “Wat?” sê Joab vir die man. “Het jy hom regtig gesien? En hoekom het jy hom nie net daar doodgemaak nie? Ek sou vir jou baie geld én ’n leerbelt gegee het!”
12 “Nee,” sê die man vir Joab, “al gee u my ’n hoop geld, sal ek nie my hand optel vir die koning se seun nie. Ons het self gehoor toe die koning vir u en Abisai en Ittai gesê het dat niemand sy seun Absalom moet seermaak nie.
13 As ek hom dalk doodgemaak het, sou die koning uitgevind het wie dit gedoen het, en dan sou u nie vir my opkom nie.”
14 “Ek kan nie my tyd hier by jou staan en mors nie,” sê Joab, en hy gryp drie spiese en gaan steek Absalom daarmee in die bors waar hy nog so lewendig in die boom hang.
15 Tien van Joab se wapendraers het op Absalom toegesak en hom doodgeslaan.
16 Joab het op ’n ramshoring geblaas. Dit was die teken dat die soldate nie die Israeliete verder moes jaag nie.
17 Hulle het Absalom se lyk gevat en dit in die bos in ’n groot gat gegooi. Toe het hulle hom met ’n groot hoop klippe toegepak. Intussen het al die Israeliete na hulle huise toe gevlug.