15 Die koning het teruggegaan. Toe hy by die Jordaanrivier kom, was die mense van Juda al by Gilgal om hom te verwelkom en hom oor die rivier te help.
16 Simeï, Gera se seun, daardie Benjaminiet wat in Bagurim gebly het, was vreeslik angstig om die koning te verwelkom en het saam met die mense van Juda afgegaan rivier toe.
17 Daar was ’n klomp soldate van die stam van Benjamin by hom, en ook Siba, die man wat by Saul in die paleis gewerk het, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle was voor die koning by die rivier.
18 Hulle het deur die drif gegaan om die koning se gesin oor die rivier te help en enigiets te doen wat die koning wou hê. Toe Simeï, Gera se seun, deur die Jordaanrivier is, val hy voor die koning op sy knieë
19 en sê vir hom: “U Majesteit, moet asseblief nie die verkeerde ding wat ek gedoen het, teen my hou nie. Moet tog nie dink aan die onnosel ding wat ek daardie dag aangevang het toe U Majesteit uit Jerusalem moes padgee nie. Vergeet dit, asseblief.
20 Ek weet ek het ’n vreeslike fout gemaak, maar vandag is ek van al die mense in die Noorde eerste hier om U Majesteit te verwelkom.”
21 Abisai, Seruja se seun, haak toe af en sê: “Maar moet Simeï nie doodgemaak word vir wat hy gedoen het nie? Hy het dan die Here se koning gevloek!”