17 Daar was ’n klomp soldate van die stam van Benjamin by hom, en ook Siba, die man wat by Saul in die paleis gewerk het, met sy vyftien seuns en twintig slawe. Hulle was voor die koning by die rivier.
18 Hulle het deur die drif gegaan om die koning se gesin oor die rivier te help en enigiets te doen wat die koning wou hê. Toe Simeï, Gera se seun, deur die Jordaanrivier is, val hy voor die koning op sy knieë
19 en sê vir hom: “U Majesteit, moet asseblief nie die verkeerde ding wat ek gedoen het, teen my hou nie. Moet tog nie dink aan die onnosel ding wat ek daardie dag aangevang het toe U Majesteit uit Jerusalem moes padgee nie. Vergeet dit, asseblief.
20 Ek weet ek het ’n vreeslike fout gemaak, maar vandag is ek van al die mense in die Noorde eerste hier om U Majesteit te verwelkom.”
21 Abisai, Seruja se seun, haak toe af en sê: “Maar moet Simeï nie doodgemaak word vir wat hy gedoen het nie? Hy het dan die Here se koning gevloek!”
22 Dawid antwoord toe: “Julle twee seuns van Seruja hoef nie vir my op te kom nie. Om die waarheid te sê, julle praat vandag teen my. Niemand in Israel sal vandag doodgemaak word nie. En dit sê ek omdat ek nou die koning van Israel is.”
23 Die koning het vir Simeï gesê: “Jy sal nie doodgemaak word nie.” Die koning het gesweer dat dit nie sal gebeur nie.