24 Mefiboset, Saul se kleinseun, het ook gegaan om die koning te verwelkom. Van die dag af dat die koning uit Jerusalem uit is tot op die dag dat hy weer veilig terug was, het Mefiboset nie sy voete gewas of geskeer of ander klere aangetrek nie.
25 Toe hy later in Jerusalem by die koning kom, het die koning vir hom gevra: “Hoekom het jy nie saam met my gegaan nie, Mefiboset?”
26 “U Majesteit,” het hy geantwoord, “omdat ek so swaar loop, het ek gedink ek sal ’n donkie laat opsaal waarmee ek kan ry en saam met U Majesteit gaan. Maar my werker het my in die steek gelaat.
27 Boonop het hy my sleggemaak by u. Maar U Majesteit is so verstandig soos ’n engel uit die hemel. Doen maar met my wat u wil.
28 U Majesteit kon my pa se hele familie doodgemaak het. In plaas daarvan het u my ’n plek gegee aan u tafel. Watter reg het ek dan om nou nóg ’n guns vir u te vra?”
29 “Ons hoef nie verder daaroor te praat nie,” het die koning gesê. “Ek reël nou dat jy en Siba die grond van Saul moet deel.”
30 Toe het Mefiboset geantwoord: “Ek is so bly dat U Majesteit veilig by die huis is, Siba kan maar alles kry.”