35 Ek is nou 80 jaar oud. My smaak is daarmee heen: ek kan nie meer iets wat ek eet of drink, geniet nie. Ek kan ook nie meer mooi hoor as die sangers en sangeresse sing nie. Ek sal net vir U Majesteit ’n las wees.
36 Ek sal amper nie eers saam met U Majesteit oor die Jordaanrivier kom nie. Waarom moet u dan vir my soveel moeite doen?
37 Laat ek maar omdraai en in my eie dorp doodgaan waar my pa en ma begrawe lê. Hier is my seun Kimham. Hy kan maar saam met U Majesteit gaan. Doen maar vir hom wat u wil.”
38 Die koning het gesê: “Goed, Kimham gaan dan saam met my. Ek sal vir hom doen net wat jy vra. Ek sal enigiets vir jou doen.”
39 Al die mense het toe oor die Jordaanrivier gegaan. Die koning is ook oor nadat hy vir Barsillai omhels en hom alles wat goed is, toegewens het. Barsillai het teruggegaan huis toe.
40 Die koning is toe daarvandaan Gilgal toe. Kimham het saamgegaan.Al die manskappe van Juda en die helfte van die manskappe van Israel het die koning oor die rivier gehelp.
41 Maar toe kom al die ander mans van Israel daar by die koning aan en sê vir hom: “Waar kom ons broers, die mense van Juda, daaraan om U Majesteit en sy gesin en al die mense by hom oor die Jordaanrivier te help?”