6 U is mos nou aan die kant van dié wat teen u is, en u is teen dié wat aan u kant is. U wys nou u gee nie ’n flenter om vir die offisiere en manskappe nie. Dit lyk vir my u sou daarvan gehou het as Absalom vandag nog geleef het en ons almal dood was!
7 “Gaan nou dadelik uit en gaan praat mooi met die manne, want ek sweer nou voor die Here, as u nié uitgaan nie, sal daar vannag nie een man by u oorbly nie! En dít sal die grootste moeilikheid wees wat u nog ooit in u lewe gehad het.”
8 Die koning het opgestaan en by die ingang van die stad gaan sit. Toe die manskappe hoor dat die koning daar by die ingang is, het almal soos gewoonlik voor hom verbygestap wanneer hulle gewen het.Nadat die soldate van die Israeliete na hulle huise toe gevlug het,
9 het daar ’n groot stryery onder al die Israeliete begin. Die mense het vir die leiers gesê: “Die koning wat ons gehelp het teen ons vyande, ja, dié een wat ons vrygemaak het van die Filistyne, het uit die land uit gevlug vir Absalom.
10 Maar Absalom, wat ons koning gemaak het oor ons, is dood in die oorlog. Hoekom sê julle nou niks? Hoekom bring julle nie die koning terug nie?”
11 Koning Dawid het daarvan gehoor. Hy laat weet toe vir Sadok en Abjatar: “Praat ’n bietjie met die leiers van Juda in die suide en vra vir hulle hoekom hulle die koning nie eerste terugvat na sy paleis toe nie. Sê vir hulle die koning het gehoor die Israeliete in die Noorde wil hom terugvat.
12 Sê vir hulle ons is broers, ons is eie bloedfamilie; hoekom is hulle dan so stadig om die koning terug te vat?