1 Daar was op ’n keer in Dawid se tyd baie min kos in die land. Dit het vir drie jaar aangehou omdat dit nie gereën het nie. Dawid het toe vir die Here gaan vra wat verkeerd is. Die Here se antwoord was: “Saul het mense van Gibeon laat doodmaak, en sy familie moet eers daarvoor betaal.”
2 (Die mense van Gibeon was nie Israeliete nie. Hulle voorouers was Amoriete. Die Israeliete het belowe hulle sal hulle nie doodmaak nie, maar Saul het probeer om hulle uit te roei omdat hy gedink het dit sal beter wees vir die mense van Israel en Juda.) Dawid het die mense van Gibeon laat roep
3 en vir hulle gevra: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek die saak regstel sodat dit weer goed kan gaan met die Here se land?”
4 Die mense van Gibeon het gesê: “Ons wil nie Saul of sy familie se geld hê nie. Aan die ander kant mag ons seker nie vra dat van die Israeliete doodgemaak word nie, of hoe?”“Ek sal doen wat julle vir my vra,” sê Dawid.
5 Hulle sê toe vir die koning: “Daardie man wou ons uitroei; hy het ’n plan gehad om ons só by te kom dat ons nêrens in die land ’n plekkie sou hê nie.
6 Daarom moet sewe van sy kinders of kleinkinders vir ons gegee word sodat ons hulle kan ophang om die Here tevrede te stel. Ons wil hulle in Gibea ophang, die dorp waar Saul gewoon het, die man vir wie die Here eers gekies het.”Die koning het gesê: “Ek sal hulle gee.”
7 Die koning het nie Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, vir hulle gegee nie, want hy en Jonatan het dit mos voor die Here vir mekaar belowe.