6 Daarom moet sewe van sy kinders of kleinkinders vir ons gegee word sodat ons hulle kan ophang om die Here tevrede te stel. Ons wil hulle in Gibea ophang, die dorp waar Saul gewoon het, die man vir wie die Here eers gekies het.”Die koning het gesê: “Ek sal hulle gee.”
7 Die koning het nie Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, vir hulle gegee nie, want hy en Jonatan het dit mos voor die Here vir mekaar belowe.
8 Die koning het toe Rispa se twee seuns gegee. Hulle name was Armoni en Mefiboset. (Rispa was een van Saul se vroue; haar ma was Aja.) Hy het ook die vyf seuns van Merab, Saul se dogter wat met Adriël getroud was, gegee. (Adriël was Barsillai van Megola se seun.)
9 Hy het hulle vir die mense van Gibeon gegee. Die mense van Gibeon het hierdie sewe mans almal gelyk doodgemaak en hulle op die berg by die Here se altaar opgehang. Dit het gebeur aan die begin van die oestyd, net toe die mense begin gars oes het.
10 Rispa, Aja se dogter, het ’n swart bokhaarkombers gevat en vir haar ’n skuiling op die klipplaat gemaak. Daar het sy gesit en bedags die aasvoëls en snags die jakkalse van die lyke af weggehou. Sy het by die lyke waggehou vandat die oes begin het totdat dit op die lyke gereën het.
11 Die mense het vir Dawid gaan vertel wat Rispa, Saul se haremvrou, gedoen het.
12 Hy het toe Saul en sy seun Jonatan se bene laat haal by die mense van Jabes in Gilead. (Die mense van Jabes het hulle lyke mos een nag gaan afhaal van die binnekant van die muur van Bet-San af waar die Filistyne hulle opgehang het nadat hulle vir Saul op Gilboaberg doodgemaak het.)