30 Joab en sy broer Abisai het Abner natuurlik vermoor omdat hy hulle broer Asael in die geveg by Gibeon doodgesteek het.)
31 Daarna sê Dawid vir Joab en al die mense by hom: “Skeur julle klere en bind swart bokhaardoeke om julle lywe en loop in die stoet voor Abner se lyk.” Koning Dawid het self reg agter die draagbaar geloop.
32 Hulle het Abner in Hebron begrawe. Dawid het kliphard by die graf gehuil. Almal het saamgehuil.
33 Die koning het dié klaaglied vir Abner gesing:Abner, waarom moes jy doodgemaak word? Asof jy niks werd is,
34 is jou hande nie geboei, jou voete nie vasgemaak nie; is jy dood soos iemand wat deur straatboewe aangeval is.Toe die mense die lied hoor, het hulle nog meer gehuil oor Abner.
35 Die mense het Dawid probeer ompraat om daardie dag iets te eet, maar Dawid het voor God gesweer hy sal nie sy mond aan iets sit voor die dag om is nie.
36 Al die mense het daarvan te hore gekom en dit waardeer. Om die waarheid te sê, hulle was gelukkig met alles wat die koning gedoen het.