8 Hieroor het Abner hom bloedig vererg. Hy sê toe vir Is-Boset: “Dink jy miskien ek is ’n skelm hond wat jou koningskap wil afneem omdat ek aan Juda se kant is? Ek was nog altyd getrou aan Saul, jou pa, se regering, aan sy familie en aan sy vriende. Ek het ook gekeer dat Dawid jou in die hande kry. En nou kom beskuldig jy my dat ek met hierdie vrou gelol het!
9-10 God kan my maar baie swaar straf as ek nie doen wat ek nou vir jou gaan sê nie: Ék sal sorg dat die koningskap van Saul se familie af weggevat en aan Dawid gegee word soos die Here hom belowe het. Dan sal hy koning wees oor die hele Israel en Juda, van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide.”
11 Is-Boset was so bang vir Abner, hy het nie ’n woord gesê nie.
12 Abner het mense na Dawid gestuur om vir hom te gaan sê: “Eintlik behoort die land aan jou. As jy met my ’n ooreenkoms maak, sal ek sorg dat al die Israeliete jou kant kies.”
13 Dawid se antwoord was: “Dis goed so, ek sal ’n ooreenkoms met jou maak; maar op een voorwaarde: jy kom nie hier by my aan sonder Mikal, Saul se dogter, nie.”
14 Dawid stuur toe ook ’n boodskap vir Is-Boset, Saul se seun: “Gee my vrou Mikal vir my terug. Sy is my wettige vrou; ek het vir haar met die voorhuide van 100 Filistyne betaal.”
15 Is-Boset het haar laat haal by Paltiël, die seun van Lajis.