16 Toe die ark in die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur die venster gekyk en gesien hoe bokspring en dans die koning daar by die ark van die Here. Sy het al haar respek vir hom verloor.
17 Hulle het die ark ingevat en dit op ’n spesiale plek neergesit in ’n tent wat Dawid laat opslaan het. Dawid het daar by die tent offers verbrand en diere geslag vir die heilige ete.
18 Nadat die mense geëet het, het Dawid hulle in die Naam van die magtige Here voorspoed toegewens.
19 Hy het vir elke Israeliet wat daar was, mans en vroue, ’n ringbroodjie en ’n hand vol dadels en rosyntjies gegee. Almal is daarna huis toe.
20 Toe Dawid ook huis toe gaan om sy eie familie voorspoed toe te wens, het Mikal, Saul se dogter, uitgekom en ewe sarkasties gesê: “Ag, en het die koning van Israel nie vandag vir hom naam gemaak nie! Die meisies wat vir sy amptenare werk, het alles gesien! Hy was net soos ’n skorriemorrie wat sy klere voor meisies uittrek!”
21 Dawid het vir haar gesê: “Hoor hier, ek het vir die Here gedans omdat Hy my bo jou pa gekies het en bo enigiemand in jou pa se familie. Ek het gedans omdat die Here my die leier van sy volk, van Israel, gemaak het.
22 Maar weet jy, ek sal nóg laer gaan as wat ek vandag gegaan het: ek sal afgaan tot by dié meisies van wie jy gepraat het. Húlle sal van my hou.”