18 Koning Dawid het toe in die tent ingegaan en by die ark van die Here gaan sit. Hy het gebid: “Wie is ek, groot Here, en wie is my familie dat U my tot hier gebring het?
19 Asof U nie al genoeg gedoen het nie, groot Here, het U toe ook nog aan my familie wat lank ná my kom, beloftes gemaak. Is dít wat U vir gewone mense soos ons wil sê, groot Here?
20 Wat kan iemand soos ek, Dawid, daaroor sê? U ken my tog goed, groot Here.
21 U het hierdie groot ding gedoen omdat U dit wóú doen en omdat U gesê het U gaan dit doen. En nou het U dit vir mý ook vertel!
22 U is regtig groot, Here my God. Daar is niemand soos U nie, en behalwe U is daar geen god nie. Dit weet ons vir seker.
23 “En watter ander mense is so gelukkig soos die Israeliete, u volk? Hulle is die enigste mense op aarde wat ’n God het wat hulle uit die moeilikheid gehelp het en hulle sy eie volk gemaak het. U het vir Uself naam gemaak toe U groot wonderwerke gedoen het en ander nasies en hulle gode uit hierdie land uitgejaag het om plek te maak vir u mense wat U uit Egipte vrygemaak het.
24 U het die Israeliete u eie volk gemaak vir altyd. En Here, U is hulle God.