11 Die priester moet dan die een duif gebruik om vir sy sonde ’n offer aan God te bring en die ander een vir ’n brandoffer. So vra die nasireër om vergifnis voor God vir die fout wat hy onbewustelik gemaak het deur in die teenwoordigheid van ’n dooie te wees. Op dieselfde dag moet hy homself aan die Here se diens toewy deur sy hare en baard te laat groei.
12 Hy moet ook weer voor die Here beloof dat hy Hom voltyds sal dien vir die hele tyd wat hy belowe het om dit te doen. Die dae wat hy onrein was, tel nie. As deel van sy belofte moet hy ook ’n jaaroud lam as ’n offer vir die Here bring om sy skuld te bely.
13 “As die tyd van die nasireërsbelofte om is, moet die volgende voorskrifte nagekom word: Die nasireër moet na die ingang van die tent gaan waar die Here aanbid word.
14 Hy moet dan drie diere sonder enige liggaamsgebrek aan die Here offer: as brandoffer ’n jaaroud skaaprammetjie, ’n jaaroud skaapooitjie as sondeoffer en ook nog ’n skaap of bokram as ’n eteoffer.
15 Verder moet hy ook ’n mandjie met brood saamvat wat nie met suurdeeg gebak is nie; koekies van fynmeel wat sonder suurdeeg gebak is en met olyfolie aangemaak is, asook platkoek sonder suurdeeg wat met olie gesmeer is. Die graanoffer en drankoffer wat deel van hierdie offer uitmaak, moet ook geoffer word.
16 Die priester moet al hierdie offers aan die Here offer, eers die sondeoffer en die brandoffer,
17 daarna die ram as eteoffer saam met die mandjie met al die brood wat sonder suurdeeg gebak is. Die voorgeskrewe graan- en drankoffers moet ook gebring word.