1 Na dit het Iyov sy mond oopgemaak en die dag waarop hy gebore is vervloek.
2 Iyov het gepraat en gesê:
3 “Laat die dag vergaan waarop ek gebore is en die nag waarin dit gesê is: ‘’n Seun is gevorm;’
4 laat daardie dag duisternis wees; laat God dit nie erken van bo af nie en laat die lig ook nie daarop skyn nie;
5 laat die duisternis en doodskaduwee dit toedek; laat ’n wolk dit oorskadu; laat hulle wie se dag bitter is deur dit beangs word;
6 wat daardie nag betref, laat dik donkerheid hom bedek; laat daardie dag nie bereken word in die dae van die jaar nie, nie kom in die getal van die maande nie;
7 ja, laat daardie nag onvrugbaar wees, geen uitroep van vreugde daarin kom nie;
8 laat hulle wat die dag vervloek, dit vervloek, hulle wat gereed is om die Leviatan aan te hits;
9 laat die sterre van sy oggendskemering donker wees; laat die mense wag op lig, maar niks kry nie en laat hulle ook nie die ondergaan van die dag sien nie
10 omdat dit nie die deure van my moeder se baarmoeder toegesluit het nie en ook nie moeilikheid vir my oë weggesteek het nie.
11 Waarom het ek nie in die baarmoeder gesterf nie? Waarom het ek uitgekom by geboorte?
12 Waarom is ek op my moeder se knieë grootgemaak? Waarom het ek aan die borste gedrink?
13 Ek moes nou in die graf gelê en stil gewees het; ek moes geslaap het, dan sou ek tot rus gekom het
14 saam met konings en raadgewers van die aarde, wat verlate plekke vir hulleself bou;
15 of saam met prinse wat goud besit, wat hulle huise met silwer volmaak;
16 of soos ’n weggesteekte miskraam, asof ek nie bestaan het nie; soos babas wat nooit die lig sien nie.
17 Daar hou die bose op met woelinge en daar kom die wat moeg is tot rus.
18 Daar rus die gevangenes saam; hulle hoor nie die stem van die onderdrukker nie.
19 Klein en groot is daar en die slaaf is vry van sy meester.
20 Hoekom word daar lig gegee aan die een wat moeilikheid het en lewe aan die wat verbitterd is in die lewe,
21 wat verlang na die dood en dit kom nie en dit soek soos een na ’n weggesteekte skat soek;
22 wat uitermate bly is en hulle verheug as hulle die graf kon vind?
23 Waarom word lig gegee aan ’n man wie se lewenswyse weggesteek is, wat rondom afgekamp is deur God?
24 Want my gesug kom voor ek eet en my gekerm word uitgegooi soos water,
25 want die ding wat ek grootliks vrees, het oor my gekom en dit waarvoor ek bang was, het na my toe gekom.
26 Ek is nie rustig nie, ook nie kalm nie en nie in rus nie en tog het rampe gekom!”