1 Let op, daar is ’n vasgestelde tyd vir die mens op aarde en sy dae is soos die dae van ’n huurling,
2 soos ’n slaaf wat gretiglik begeer na die aandskemer en soos ’n huurling wat kyk om sy taak te voltooi;
3 so het ek maande van teleurstelling geërf en moeisame nagte word vir my uitgemeet.
4 Wanneer ek gaan lê, sê ek: “Wanneer sal ek opstaan?” en die nag blyk lank te wees; wanneer ek gaan rus, rol ek rond tot dagbreek toe.
5 My vlees is bedek met wurms en my liggaam met stof; my vel krimp op en val uitmekaar.
6 My dae is vinniger as ’n wewerspoel en gaan verby sonder verwagting.
7 O, onthou tog dat my gees nog lewe; nogtans, my oog sal weer die goeie sien.
8 Die oog van hom wat my gesien het, sal nie meer bly wees nie. U oë is op my en ek is nie weg nie!
9 Soos die wolk wegkwyn en verdwyn, so sal hy wat afgaan na Sh’ol, nie weer opkom nie.
10 Hy sal nie meer teruggaan na sy huis toe en sy plek nie meer herken nie;
11 daarom sal ek nie my mond inhou nie, ek sal praat vanuit die beangstheid van my gees, ek sal kla in die bitterheid van my lewe.
12 Is ek ’n see, of ’n seemonster dat U ’n wag oor my aanstel?
13 Ek het gesê dat U my sal troos en ek sal verlig word van die pyn van my siekbed
14 en let op, U verskrik my deur drome en maak my bang deur visioene;
15 U het my lewe vanuit vernietiging getrek en my gebeente uit die dood.
16 Ek is moedeloos; ek sal nie vir ewig lewe nie; los my uit, want my lewe is nietig.
17 Wat is die mens dat U hom oplig en dat U aan hom sou dink
18 en dat U hom elke oggend sou besoek en hom elke oomblik toets?
19 Vir hoe lank wil U dit nie van my af wegvat nie, of my alleen laat? Totdat ek my spoeg insluk?
20 As ek gesondig het, wat het ek aan U gedoen, o, Skepper van die mens? Waarom het U my as ’n teiken opgestel sodat ek ’n las geword het?
21 Tot wanneer sal U nie my oortreding vergewe en my boosheid verwyder nie? Nou sal ek in die stof lê en U sal my soek, maar ek sal nie meer wees nie.”